|

AfriForum bemagtig Brits-inwoner met waentjie en fiets

AfriForum se Brits-tak het op 15 September ’n waentjie en ’n fiets aan Thys Fourie (62), en Shelby, sy sesjarige boerboel-kruising, geskenk. Hierdie man en sy hond is in Brits bekend omdat hulle daagliks saam straatname en -nommers verf. Oom Thys, soos mense hom noem, is ’n handige man wat jare lank op die myn werksaam was.

Thys moes altyd die verf in 1 liter-bottels gooi en in sy rugsak dra, wat alreeds swaar was as gevolg van sy en Shelby se kos en water. Die klein hoeveelheid verf en gewig wat hy kon ronddra, het dit vir hom baie moeilik gemaak om produktief te wees en meer geld te verdien.

AfriForum se Brits-tak het dit raakgesien en besluit om sy daaglikse taak te vergemaklik deur hom met ’n fiets en ’n waentjie te bemagtig.

Die AfriForum-tak in Brits bedank graag die volgende ondernemings en organisasies wat gehelp het om Oom Thys te bemagtig: Alba Signs wat die plakkers gemaak en opgeplak het;  Innes van der Schyff, ’n AfriForum-lid wat die waentjie gemaak het; Waterplesier vir die padverf; Makarios Tutor Sentrum vir die fiets; Woodspec Engineering vir die bande; en AfriForum se Brits-tak vir die staal vir die waentjie.

“Duidelike en leesbare straatname en -nommers is van onskatbare waarde wanneer AfriForum se buurtwaglede en nooddienste vinnig by ’n huis moet uitkom. Fourie verf ook enige ander tipe naamborde,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

Dié tak het ook op 17 September by die Maree-park, op die hoek van Gert Scheepers- en Van Deventerstraat, bymekaargekom om die parkie skoon te maak. Daar is ongeveer 20 swartsakke met rommel en drie stortbakke met tuinvullis weggery. Die gees onder die vrywilligers was goed, en die gemeenskap het saam met AfriForum ingespring om dit ’n sukses te maak.

Die AfriForum-tak in Brits wil graag die volgende rolspelers bedank: Lede van die AfriForum-tak in Brits; Anton Jansen-tuindienste; SkipGo Harties/Brits; SSR Skips; Talisman Brits; Joël Dube van Elandsrand Men’s Forum; Protego Security Group; Hennie Barnard vir die drinkwater; Willemien Barnard, plaaslikeregeringsbeampte vir AfriForum se Brits-tak; Rudi Bosch, omgewingsakebeampte vir die AfriForum Brits-tak; en Thys van Heerden, veiligheidsvoorsitter vir AfriForum se Brits-tak.

Word vandag deel van die oplossing, en sluit by AfriForum se Brits-tak aan: SMS “Brits” na 45344 (R1), of skakel Werner Claasen by 078 800 5148.

Soortgelyke plasings