|

Bothaville-tak maak beswaar teen skuif van kliniek

AfriForum se Bothaville-tak het vandag ’n dringende brief aan die direkteur vir distriksgesondheidsdienste, T.S. Shale, gestuur waarin hulle beswaar maak teen die verskuiwing van die kliniek in Bothaville na Khotsong.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat daar nie met die gemeenskap, wat hierdeur geraak word, gekonsulteer is nie. Daar was geen proses van openbare deelname waaraan die gemeenskap kon deelneem nie. Die gemeenskap voel dat dié skuif in die geheim plaasvind en baie mense van gesondheidsdienste gaan ontneem omdat bejaardes en kinders nie by ’n kliniek in Kgotsong kan uitkom nie.

Die tak eis dat Shale moet bewys dat die gemeenskap met kennisgewings uitgenooi is om aan die openbare proses deel te neem. Hulle eis verder dat ’n lewensvatbaarheidstudie gedoen word. Indien so ’n studie reeds gedoen is, eis die tak dat hulle die bevindinge wil sien.

Die gemeenskap van Bothaville is glad nie teen vooruitgang gekant nie en besef dat twee klinieke in Kgotsong dalk nie voldoende is nie, maar dit is verkeerd om dienste van een area weg te neem en dit aan ’n ander area te gee. Verskeie persone en instansies, insluitend twee kinderhuise, ’n kleuterskool, Hoërskool Bothaville, Laerskool Eben Dönges, die skoolkoshuis, Huis Maranatha en ’n privaatskool, word deur hierdie skuif geraak.

“Ek kan nie verstaan waarom alles in die geheim moet geskied nie. Ons moet altyd die gemeenskap se belange eerste plaas en nie onsself nie,” sê Willie Prinsloo, die voorsitter van die Bothaville-tak.

“Hierdie lyk vir my na ’n politieke skuif om stemme te werf vir volgende jaar se verkiesing. Ons kan nie toelaat dat bejaardes en kinders van kliniekdienste ontneem word nie. Daar is sekerlik behoefte aan ’n ekstra kliniek in Kgotsong, maar bou dan eerder nog ’n kliniek in plaas daarvan om een weg te neem,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Raak by AfriForum se Bothaville-tak betrokke en maak ’n verskil. Kontak Willie Prinsloo by 083 306 5732.

Soortgelyke plasings