AfriForum stel musiekvideo van “Die Gelofte” vry


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag die musiekvideo van “Die Gelofte” saam met die vervaardigingsmaatskappy Inhoud Huis en vyf van die land se topkunstenaars op AfriForum se YouTube-kanaal vrygestel. “Die Gelofte” is ’n toonsetting van die Gelofte wat in 1838 deur Sarel Cilliers opgestel is en waarin die Voortrekkers hul afhanklikheid van God in ’n tyd van moedeloosheid en onsekerheid oor die toekoms verklaar.
Die lied word deur Adam Tas, Chris Chameleon, Ghapi, Juan Boucher en Christoph Kotze (beter bekend as Appel) gesing. Dit is deur Johan Vorster van Inhoud Huis en Kotze getoonset. Die musiekvideo is deur Forum Films vervaardig, en die verspreiding word deur Dapper Media gedoen.
Die lied “Die Gelofte” sal uiteindelik deel vorm van ’n album met dieselfde titel, wat in opdrag van AfriForum deur Vorster en sy maatskappy Inhoud Huis vervaardig word.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die album grootliks as protesmusiek bestempel kan word. “Die Gelofte” is egter nie getoonset met die doel om as  proteslied beskou te word nie. “Dit is ’n gewyde lied. Dit is ’n lied van introspeksie, ’n lied oor swakheid en ’n lied oor krag.” Roets voeg by dat AfriForum as organisasie op Christelike waardes geskoei is en dat die organisasie glo dat dit elke mens se roeping is om die moue op te rol en self hand aan die ploeg te slaan.

Klik hier vir die musiekvideo: http://bit.ly/2xOVZ9v

Soortgelyke plasings