|

AfriForum stig Danabaai-buurtwag

AfriForum se Mosselbaai-tak het op 12 Junie ’n buurtwag in Danabaai gestig. Die nuwe buurtwaglede sal opgelei word om binne die raamwerk van die wet op te tree wanneer hulle hul gemeenskap teen misdaad beskerm.

Wynand Enslin sal dien as buurtwagleier met Heinrich Ninaber as operasionele spanleier, Charles Vorster as inligtingspanleier en Anne-Marie Storm Buys as steunspanleier.

Die bestuursverkiesing is voorafgegaan deur ’n aanbieding deur David Olivier, AfriForum se hoof van veiligheid vir die suidstreek. ’n Groot aantal Danabaai-inwoners het die vergadering bygewoon, wat daarop dui dat mense besorgd is oor hul omgewing se sekuriteit en opsoek is na bykomende oplossings om hulself en hul geliefdes te beskerm. Ná afloop van die aanbieding het die inwoners ook heelwat vrae gehad.

Olivier het tydens sy aanbieding beklemtoon hoe belangrik opleiding vir buurtwaglede en bestuurslede is en ’n uiteensetting gegee van die opleiding wat AfriForum aan hul lede voorsien. AfriForum se Danabaai-buurtwaglede sal in die volgende paar weke opleiding ondergaan en toegerus word met die nodige toerusting vir patrollies. Hulle sal ook toegang kry tot AfriForum se radionetwerk en herleiers en toegang hê tot regshulp en die groter AfriForum-veiligheidsnetwerk. Die stigting van AfriForum se Danabaai-buurtwag plaas AfriForum se veiligheidstrukture in die Suid-Kaap nou op 16 en die Wes-Kaap op 50.

Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, kan die beveiliging van ’n gebied nie in silo’s bedryf word nie en die Danabaai-buurtwag sluit hom hiermee aan by ’n netwerk van ander AfriForum-strukture. “AfriForum glo daarin dat alle veiligheidsrolspelers in die gemeenskap moet saamwerk aan ’n gemeenskaplike doel en ons vat graag hande met die groter Mosselbaai-gemeenskap en omliggende gebied om dit te beveilig.”

“Die uitdagings met veiligheid wat ons gemeenskappe deesdae in die gesig staar, vereis dat buurtwaglede toegerus is met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag te kan lê. AfriForum bied vir ons ’n uitgebreide opleidingsprogram en ons sal dus spoedig daarmee afskop,” sê Enslin, die buurtwagleier.

Soortgelyke plasings