|

AfriForum sit #DieWêreldMoetWeet-veldtog in Nederland en Hongarye voort

Die burgerregteorganisasie AfriForum se veldtog om die wêreld van die krisis in Suid-Afrika in te lig en buitelandse steun vir AfriForum se projekte te werf, word in die volgende twee weke in Europa voortgesit. As deel van hierdie inisiatief is Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, hierdie week op ’n skakeltoer in Nederland en volgende week in Hongarye.

’n Memorandum oor die voortdurende regeringskrisis in Suid-Afrika en maniere hoe die Nederlanders en die Hongare vanuit hul onderskeie posisies waarde tot ’n meer volhoubare oplossing kan toevoeg, word tydens hierdie skakeltoer aan verteenwoordigers van die Nederlandse en Hongaarse regerings oorhandig. Verskeie vergaderings sal ook met politieke partye, regeringsdepartemente, nie-regeringsorganisasies en ander prominente persone gehou word. In hierdie gesprekke sal praktiese voorstelle aan die regerings van Nederland en Hongarye voorgelê word oor maniere hoe diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering toegepas kan word om destruktiewe beleide soos die skending van eiendomsreg te laat vaar. Roets sal ook verskeie vergaderings in Nederland en Hongarye toespreek oor die situasie in Suid-Afrika. ’n Reeks media-onderhoude in hierdie lande is ook reeds geskeduleer.

Roets het verduidelik dat hierdie skakeltoer ’n voortsetting is van AfriForum se #DieWêreldMoetWeet-veldtog wat in 2020 afgeskop is en dat daar ook reeds voorberei word aan skakeltoere na verskeie ander lande in Europa en die res van die wêreld.

“AfriForum het nog altyd ’n hoë premie op dialoog geplaas as ’n manier om volhoubare oplossings vir politieke probleme te vind. Die werklikheid in Suid-Afrika is egter dat die Suid-Afrikaanse regering hulle nie juis steur aan gesprekke en voorstelle wat strydig met hul vooropgestelde idees is nie. Daarom is buitelandse skakeling so belangrik – nie net omdat ander lande waarde tot ’n oplossing kan toevoeg nie, maar ook omdat buitelandse skakeling ’n manier is om vriendskappe in die buiteland te versterk en druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om hulle met meer volhoubare oplossings te bemoei,” sê Roets.

Soortgelyke plasings