|

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid behaal oorwinning vir slagoffer van seksuele mishandeling aan begin van 16 dae van aktivisme

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verwelkom sekere verwikkelinge in, maar bly bekommerd oor die hantering van sake van geweld teen kinders in die Brits Streekhof. Adv. S Mzinyathi, die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Pretoria, het aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid bevestig dat een van die kindermishandelingsake in Brits waarin die eenheid tans ’n waaksaamheidsopdrag het, aan senior aanklaers by die Pretoria-Noord landdroshof oorhandig is.

Dit volg nadat die aanklaer in Brits, sonder konsultasie met die privaatvervolgingseenheid of die huidige pleegouers, aangedui het dat sy nie dink dat daar ’n goeie kans op ’n suksesvolle vervolging is nie, en die saak na die DOV verwys het vir oorweging. Nadat daar via die verdediging verneem is dat die aanklaer haar siening met die DOV gedeel het, het die  privaatvervolgingseenheid in hierdie verband vertoë aan die DOV gerig. Met verwysing na hierdie vertoë en nadat hy die dossier bestudeer het, het die DOV bevestig dat daar wel ’n prima facie-saak teen die beskuldigdes is en dat die NVG hulle gaan vervolg. Die DOV moet gekomplimenteer word vir sy insig om die saak vir verhoor vanaf Brits na Pretoria-Noord oor te plaas.

In hierdie saak word die oupa en ma van ’n jong dogtertjie saam met nog ’n man vervolg op verskeie klagtes van verkragting van die dogtertjie wat ten tyde van die pleging van die beweerde misdaad in 2018 ses jaar oud was. Die verbystering van die privaatvervolgingseenheid oor die aanvanklike onwilligheid om te vervolg, word gerugsteun deur die duidelike mediese getuienis wat op erge seksuele geweld dui. Die dogtertjie het, na bewering, beskryf hoe oortreders ’n skottelgoedsponsie in haar mond gedruk het tydens die verkragtings en seksuele molestering om te keer dat sy enige geraas maak. Die drie beskuldigdes is aangekla nadat die eenheid op 29 Junie 2021 by die saak betrokke geraak het, maar twee ander verdagtes wat deur die dogtertjie geïdentifiseer is, insluitend die ouma, is nog nie gearresteer nie.

“Vandag begin die internasionale veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Alhoewel ons die DOV se besluit om wel vervolging in te stel, verwelkom, is dit kommerwekkend om te dink dat hierdie saak, asook ander sake van geweld teen vrouens en kinders waarin die eenheid bystand bied, waarskynlik net sou verdwyn het as ons nie ingegryp het nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die ma en pa van ’n babadogtertjie is ook onlangs in die Noord-Gautengse Hoggeregshof in Pretoria skuldig bevind nadat die NVG deur die privaatvervolgingseenheid se toetrede genoop was om te vervolg.   Die babadogtertjie se lewensgevaarlike beserings is toegedien nadat die NVG geweier het om die ouers te vervolg op die eerste klagtes wat by die SAPD aanhangig gemaak is.

In ’n verdere saak van kindermishandeling, ook in Brits, is daar klaarblyklik besluit om die pa en ma van ’n baba in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria te vervolg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid aangedui het dat hulle namens belanghebbendes privaat wil vervolg toe die NVG aanvanklik die saak teen die beskuldigdes teruggetrek het. Die NVG het egter weer vervolging teen die baba se ouers ingestel nadat AfriForum vertoë aan die DOV gerig het. In hierdie geval het die biologiese ma van die slagoffer, wat op daardie stadium slegs sewe weke oud was, na bewering aan ’n kleuterskool juffrou erken dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het as hy te veel gehuil het. Die bewering word gemaak dat die baba brandwonde opgedoen het omdat hy vir lang periodes in die vrieskas gelos is. Die J88 van die baba bevat ’n verdere lys van 12 beserings. Hierdie saak sal van 24 tot 28 Januarie 2022 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor word.

“Alhoewel sake teen kinders moeilik is om te bewys, kan dit gedoen word indien die aanklaer met toewyding aan die sake aandag gee. Die NVG is dit aan die gemeenskap verskuldig om hierdie tipe sake te prioritiseer en toe te sien dat spesialisaanklaers sulke sake hanteer. Ons weet dat daar aanklaers is wat wondere verrig in sake waar vroue en kinders die slagoffers is, maar sal nie skroom om betrokke te raak indien ons sien dat dit nié die geval is nie,” sluit adv. Nel af.

Soortgelyke plasings