|

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak trek gewapende verdagte vas

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op die oggend van 4 Desember ’n verdagte in die Bellville-omgewing vasgetrek.

Die AfriForum-buurtwag was tydens voorbereiding en opstel van markdag en pretloop in die gemeenskap in kennis gestel van twee beweerde voertuigdiewe. Die buurtwag-lede se opleiding het hulle in staat gestel om dadelik aksie te neem. Die een verdagte is dadelik met behulp van ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy aangekeer maar die tweede gewapende verdagte het te voet in die bosse langs die N1 gevlug.

AfriForum se Kaapstad-Noord-buurtwag het reeds ’n hommeltuig in die lug gehad wat die verdagte toe kon agtervolg terwyl inligting aan die ander lede deurgegee is. Die verdagte het toe met ’n panga na die buurtwag-lede geswaai toe hulle nader kom, maar niemand is beseer nie. Die polisie het met hulle aankoms die verdagte ontwapen en in hegtenis geneem.

“Te danke aan effektiewe radiokommunikasie, ons opleiding en scenario oefeninge kon ons dadelik en effektief optree met elke lid wat presies weet wat elkeen se verantwoordelikheid is. Beplanning het nie op die dag plaas gevind nie, slegs uitvoering van wat ons reeds vroeër ingeoefen het en hierdie paraatheid het tot die twee arrestasies gely,” sê Tommy van Zyl, voorsitter van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by soortgelyke projekte betrokke te raak en deel te word van die oplossing. Sluit vandag nog by AfriForum se Kaapstad-Noord-tak aan: SMS “Kaapstad-Noord” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings