AfriForum-tak in Brakpan skenk tien bome aan bejaardes


AfriForum se Brakpan-tak het tien bome aan die Tweedy Park-tehuis vir bejaardes geskenk as deel van die burgerregte-organisasie se boomplantmaandveldtog.

Die takbestuur en inwoners van die tehuis het ook die vyf swart kareebome en vyf olienhoutbome op 30 September 2017 geplant. Volgens Gerhard Cilliers, sekretaris van AfriForum se Brakpan-tak, beoog die organisasie om landwyd meer as 1 100 bome te plant.

“Bome is nie slegs ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie, dit is ook ’n erfenis. Bome verskaf suurstof, skaduwee en voedsel, en dit is ook iets wat ons vir die nageslag agterlaat,” sê Cilliers.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom en ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2017 is die blinkblaar-wag-’n-bietjie (Ziziphus mucronata) en die skaars boom is die ebbeboom (Euclea pseudebenus). AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewing sal aard, vandaar die plant van die karee- en olienhoutbome.

“Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms,” sluit Cilliers af.

Soortgelyke plasings