|

Boere keelvol vir aanslag op hulle; ruk op in groot getalle na Roedtan

Die moord op Nicky Janse van Rensburg (35) twee weke gelede het boere en die landbougemeenskap in die land op breekpunt.

Honderde boere en ondersteuners teen plaasmoorde en –aanvalle het vandag met plaasbakkies, trekkers, stropers en ander plaasimplemente aan ’n massa-optog in Roedtan deelgeneem om hul misnoeë en ontevredenheid met geweld teen boere te kenne te gee. Daar was ook verteenwoordigers van perdekommando’s en motorfietsklubs. AfriForum het ook ’n afvaardiging gestuur ter ondersteuning van die optog.

Verskeie plakkate is tydens die optog vertoon soos “Die Boere is hier om te bly”, “Stop Plaasmoorde.”, “Geen boer, geen kos, geen werk, geen toekoms” en “Brendin Horner: Ons vir jou”

Die beskuldiges het in die rondgaande hof op die dorp verskyn. Die saak is uitgestel.

Floris Booysen, voorsitter van die Distrikslandbou-unie van Potgietersrus (Mokopane), het gesê boere is keelvol vir die aanslag teen hulle. Met die optog wil boere en die landbougemeenskap ’n boodskap aan die regering oordra dat geweld teen boere nie so kan voortgaan nie. “Ons produseer kos in die land. Maar dit word al hoe moeiliker, want boere leef daagliks in abnormale omstandighede waar hulle die heeltyd oor hul en hul gesinne se veiligheid moet bekommer.”

Floris Booysen, voorsitter van die Distrikslandbou-unie van Potgietersrus (Mokopane)

Verteenwoordigers is dit eens dat die regering moet wakker word en begin besef wat die gevolge van die aanslag op boere gaan wees. Baie boere emigreer of staak boerdery weens die onveiligheid op plase. Die land stuur op ’n ramp af. En die regering kom nie sy grondwetlike plig na om burgers te beskerm nie.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het sy simpatie teenoor die familie van Janse van Rensburg en ander slagoffers van plaasmoorde uitgespreek. Hy het ook ’n beroep op boere gedoen om aan te hou om hul veiligheid op te skerp en hulle aangemoedig om hulself binne die wet te verdedig en op te tree sou hulle aangeval word.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA

Marcelle Maritz, VP Plus-leier in Limpopo, het ’n beroep op die regering gedoen om te begin opstaan vir die boere in die land.

Sy het gesê borgtog vir die aanvallers gaan teengestaan en met mag beveg word. “Die boodskap moet na buite gaan. Die boere is moeg. Hulle wil nie meer praat nie. Hulle sê niemand doen iets aan hul situasie nie. Dit is tyd om te sê ons gaan opstaan en onsself en ons eiendom en ons mense beskerm.”

Petrus Phakamile Sitho, ’n aktivis teen plaasmoorde en wat van provinsie tot provinsie gaan om sy boodskap oor te dra, sê hy baklei vir die boere van Suid-Afrika. “Hulle gee vir ons, maar baie mense verstaan dit nie. Daardie lied van “Kill the boer” is iets wat gebeur. Ek hoor mense dit in townships sê dat hulle die boere gaan doodmaak om die grond te kry. Hulle wil dit met geweld vat en geweld beteken om iemand dood te maak.”

Hulle gaan een van die dae besef as hulle wil gaan kos koop, dat daar nie kos is nie.

Verlede week het Sitho van die Oos-Kaap na Pretoria gereis om ’n brief aan Bheki Cele, Minister van Polisie, te oorhandig. Hulle het dit nie ontvang nie, wat beteken hulle en die president van die land gee nie om nie. “Hulle gaan een van die dae besef as hulle wil gaan kos koop, dat daar nie kos is nie. En dan gaan hulle sê ek het hulle gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.”

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, het gesê: “Ons is vandag hier om ons solidariteit met slagoffers van plaasaanvalle en – moorde te toon.

“Plaasmoorde bly ‘n groot probleem in die land en hierdie soort optogte wys die ondersteuning van organisasies en georganiseerde landbou.”

Ernst van Zyl en Reiner Duvenage, veldtogbeamptes by AfriForum

AfriForum is deurlopend plaaslik en internasionaal besig met bewusmakingsveldtogte rondom hierdie krisis.

TJ Maré, nasionale president van die 911-riders van Nelspruit, sê hulle is al twee keer deur Suid-Afrika as motorfietsryers om bewusmaking vir plaasmoorde te skep. “Ons is vandag hier om ons ondersteuning te bied. Ons boodskap is kort: Stop plaasmoorde! En implementeer die landelike veiligheidstrategie. Vir die boere sê ons kyk na julleself. Wees versigtig. Breek julle roetines en kyk wat rondom julle aangaan.

“Daar gaan te veel boere dood. Dis nie rassisties nie om dit te sê. Moord word gepleeg en dit moet stop. Die regering sien nie die prioriteit daarvan nie en hulle sien dit net as moord. Ons as Suid-Afrikaners moet saamstaan en sê genoeg is genoeg. Dit moet nou stop.”

Die verrigtinge is met skriflesing en gebed afgesluit waartydens die boodskap was dat die wêreld moet sien boere het genoeg gehad. Ds. Jan Claasen van die Hervormde Kerk in Naboomspruit het gesê almal is moeg vir misdaad en korrupsie in die land. “Ons sê vandag genoeg is genoeg, maar ons moet ook moed hou en glo dat die Here Hom oor sy kinders sal ontferm.”

Soortgelyke plasings