|

AfriForum-tak in Bethlehem sny gras om dorp te verfraai en beveilig

Die AfriForum-tak in Bethlehem het die afgelope maand steeds onverpoosd gewoeker met die grassny om die dorp, begraafplase en die Bethlehem-museum netjies en veilig te hou. Die grassny-projek is gedurende Desember 2022 geloods waar dit aanvanklik meer as twee weke geneem het om die volgende areas se gras te sny: Die Bethlehem-museum en die Môrelig-, Anglo-Boereoorlog-, Baken Park- en die Bohlokong-begraafplase.

Volgens Marc Timmins, voorsitter van die Bethlehem-tak, was hierdie areas in ’n haglike toestand maar dat daar nou goeie vordering gemaak is. Die span het op 23 Januarie teruggekeer om die gras te sny en kon dit hierdie keer binne slegs vier dae regkry. Al hierdie areas is eers skoongemaak voordat die gras gesny is.

“Ons grassny-projek het vir verskeie gemeenskappe weer toegang tot die begraafplase gegee. Dit was ongelooflik om te sien hoeveel dit vir hulle beteken dat AfriForum hulle met hierdie projek help. Dit verfraai nie net die dorp se voorkoms nie, maar het ook ’n positiewe impak op die dorp se ekonomie en veiligheid,” sê Timmins verder.

“Bethlehem se AfriForum-tak doen baie om die dorp netjies en veilig te hou en die gemeenskap is hulle groot dank verskuldig. Die grassny-projek maak ’n reuse-verskil om die dorp se veiligheid op te skerp. As die munisipaliteit nie hul pligte nakom en die onderhoud gaan doen nie, sal ons dit self doen. Hoe meer die gemeenskap betrokke raak, hoe meer gaan die dorp vooruitgaan,“ sê Chris Morgan, distrikskoördineerder van die Hoogland.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Bethlehem” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings