|

AfriForum besoek Laerskool Tuine met teenboelieveldtog

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 25 Januarie Laerskool Tuine in Pretoria besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig en hulle ook meer oor die gevare oor kuberafknouery in te lig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons het reeds byna 200 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery, asook die impak daarvan toegespreek. Deur dié praatjies skep ons  hoop en bring ons bewusmaking van afknouery na skole sowel as gemeenskappe. Ons verskaf dus die nodige kundigheid om afknouery stop te sit,” sluit Bräsler af.

“Bewusmaking van boeliegedrag in skole is vandag van kardinale belang juis omdat dit so gereeld gebeur. Leerders moet van die verskillende vorme van boeliegedrag bewus gemaak word, hetsy verbaal, fisiek, of kuber. As leerders dít kan identifiseer, moet hulle geleer word hoe om dit te hanteer asook hoe om die boelie te hanteer. Leerders moet geleer word om selfgeldend op te tree deur vir hulself met respek op te staan en vir ander te sê hoe hulle voel,” sê Gerdouw Kruger, adjunkhoof by Laerskool Tuine.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings