AfriForum-tak in Margate-omgewing en munisipaliteit werk saam


Die burgerregtewaghond AfriForum, in samewerking met AfriForum Jeug en die Ray Nkonyeni Plaaslike Munisipaliteit, het onlangs verskeie stoptekens in Uvongo, Margate en Ramsgate vervang.
Dit volg nadat die gemeenskap gerapporteer het dat die stoptekens by verskeie kruisings in hierdie dorpe weg is en dus dié kruisings vir motoriste en voetgangers gevaarlik gemaak het.
AfriForum het ‘n versoek aan die munisipaliteit gerig om die stoptekens te vervang en sodoende ook die verhouding tussen die munisipaliteit en die plaaslike AfriForum-tak te versterk. Die munisipaliteit het uiters gunstig hierop gereageer en die beplanning is onmiddellik begin.

“Die munisipaliteit het hierdie vennootskap verwelkom, omdat ons glo dat die plaaslike regering almal raak en dit ondersteun ons visie om saam met ons aandeelhouers te werk vir ‘n veilige en gesonde omgewing. AfriForum gee altyd eerlike terugvoer, wat die munisipaliteit aanmoedig om te verbeter op swakplekke wat geïdentifiseer word,” sê Maxwell Mbili, die munisipale bestuurder van die munisipaliteit.

Dewald Smith van AfriForum Jeug spreek sy hoop uit dat hulle deur middel van hierdie projek ‘n bydrae kon lewer tot die beveiliging van dié dorpe se paaie en sodoende padongelukke kan verhoed.

“Die gemeenskap se veiligheid is vir ons ‘n prioriteit,” voeg Wessel Pretorius, voorsitter van die AfriForum-tak in Margate, by.
Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, wil benadruk hoe belangrik die samewerking tussen AfriForum en die plaaslike munisipaliteit vir hulle is. “Dit is uiters gunstig dat die munisipaliteit wil hande vat vir inisiatiewe wat ‘n verskil in die gemeenskap maak. Ons het juis die uitnodiging gerig om vennootskappe te bou en sal voortgaan om met die munisipaliteit te skakel om ook aan ander probleme aandag te gee,” sê hy.

Soortgelyke plasings