| |

AfriForum-tak pak eerste fase van Hugenotepark-opknappingsprojek

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kathu-tak het die afgelope Donderdag (8 Augustus) die eerste fase van die opknapping van die Hugenotepark-erfenisterrein in die hartjie van Kathu afgeskop. Hiertydens is die gewelmuur en naambord by die ingang na die terrein in Frikkie Meyerstraat oorgeverf en die klipvoetpad skoonmaak.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, is die verval van dié historiese terrein omvangryk, maar die tak beoog om die algehele opknapping daarvan in die komende weke in verskeie fases aan te pak en die terrein weer tot sy eertydse glorie te herstel. As deel van die volgende fase van opknapping sal die vullis op die terrein verwyder word en die gesteelde voetpadstene vervang word.

Hugenotepark is in 1988 ingewy om die koms van die Franse Hugenote drie eeue vantevore, in 1688, te gedenk. Die inhuldiging van die park het ook saamgeval met die 150 jaar-herdenking van die Groot Trek. Kathu het skaars enkele jare vantevore tot stand gekom nadat bevind is dat die gebied beskik oor van die grootste en rykste ysterertsneerslae ter wêreld.

“Die dorp het oorspronklik tot stand gekom om die groeiende aantal mynwerkers en hul gesinne te huisves en Hugenotepark is as ontspanningsterrein vir die gemeenskap gevestig,” verduidelik Strauss. “Dié park bied die ideale groen ruimte waar gemeenskapslede kan ontspan en aan buitemuurse aktiwiteite kan deelneem, maar die ernstige agteruitgang van die terrein het dit amper onbruikbaar vir dié doeleindes gelaat.”

Strauss voer voorts aan dat die verval van Afrikaner-monumente en -erfenisgebiede oor die hele land heen dikwels verval aangesien dit nie binne die regering se prioriteitsraamwerk vir erfenisbewaring val nie.

Juis daarom takel AfriForum-takke, soos die tak op Kathu, dikwels projekte van dié aard aan om die bewaring van erfenisbakens te bevorder.

Voor en nadat AfriForum se Kathu-tak die eerste fase van die terrein se opknapping aangepak het.

Kyk video van opknappingsprojek hier:

Soortgelyke plasings