|

Munisipale bestuurder verryk homself terwyl gemeenskap gebuk gaan onder swak dienslewering; AfriForum maak kapsie

AfriForum het Dinsdag 14 Mei ’n skrywe aan Gregory Nthatisi, burgemeester van Bloemfontein, gestuur en kapsie gemaak teen die salarisverhoging van R700 000 per jaar wat toegeken is aan die munisipale bestuurder van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, Sello More. Dit bring die munisipale bestuurder se totale vergoedingspakket op net meer as R2,45 miljoen. Hierdie nuwe verhoging is ook terugwerkend tot November 2023 wanneer More aangestel is.

Die besluit om die munisipale bestuurder ’n salarisverhoging te gee, is tydens ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur. AfriForum is sterk teen hierdie besluit gekant omdat die Mangaung-metro onder administrasie geplaas is, wat beteken dat die metro bankrot is. Boonop kan hierdie munisipaliteit nie eers aan die vereiste voldoen om dienste te lewer nie, soos deur die wet uiteengesit. In die brief versoek AfriForum dat hierdie besluit hersien en teruggetrek moet word.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is hierdie besluit nie in die beste belang van die gemeenskap nie. “Mr Sello More en sy korrupte amptenare is besig om hulself met die gemeenskap se geld te verryk. Dienslewering in Bloemfontein is nie op standaard nie en baie mense sit steeds sonder lopende water of behuising, maar hy steek die gemeenskap se geld in sy sak. Ons voel dat die verhoging glad nie regverdig is nie en daarom vra ons die raad om die besluit te hersien en die verhoging terug te trek,” sê Grobbelaar.

Die munisipale bestuurder is op die hoogste salarisskaal geplaas van wat ’n munisipale bestuurder van ’n kategorie 7 munisipaliteit mag verdien. “Dit is heeltemal onvanpas dat die persoon ’n verhoging kry terwyl iets so eenvoudig soos vullisverwydering nie eers op ’n daaglikse basis plaasvind nie of terwyl slaggate nie herstel word nie – dit is nog die minste van die stad se uitdagings met dienslewering. Die postitel van munisipale bestuurder is ’n aanstelling wat deur gemeenskapslede se belasting befonds word en daarom is dit sy plig om die gemeenskap te dien. Nou is hy besig om sy sakke vol geld te steek – geld wat eintlik gebruik moet word om Bloemfontein in stand te hou.”

AfriForum het die burgemeester tot Dinsdag 21 Mei gegee om op die skrywe te reageer en die formele raadsbesluit aan hom te stuur waar daar gemeld word dat die verhoging goedgekeur is. Indien geen terugvoer op hierdie datum ontvang is nie, sal AfriForum alle ander remedies tot sy beskikking gebruik om die besluit teen te staan, insluitend regstappe oorweeg.

Soortgelyke plasings