|

Matzikama-tak behaal groot suksesse gedurende Mei

AfriForum se Matzikama-tak het in Mei verskeie suksesse behaal. Dié tak het hierdie maand drie nuwe buurt- en plaaswagte in Vanrhynsdorp en Vredendal gestig. Daar is nou in totaal 16 plaas- en buurtwagte. Hierdie wagte behaal reusesukses aangesien hulle uiters aktief in hulle gemeenskappe is en nou saamwerk met die plaaslike polisie sowel as ander instansies.

Toewyding en goeie samewerkingsverhoudinge met verskeie rolspelers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Kaapse Natuurbewaring en die gebruik van tegnologie soos LPR-kameras wat nommerplate outomatiese herken en nagsig-toerusting dra by tot die doeltreffendheid van hierdie wagte. In Vredendal is daar gereeld  padblokkades in samewerking met die SAPD en privaat buurtwagte uitgevoer waartydens dronkbestuurders sowel as persone in besit van dwelms, gearresteer is. Met behulp van die LPR-kameras is ’n gesteelde voertuig by so ’n padblokkade afgetrek en teruggevind.

Verskeie operasies saam met die SAPD waar lasbriewe uitgereik is om smokkelhuise te deursoek het ook vrugte afgewerp. Die nuut gestigte plaas- en buurtwagte  van Vanrhynsdorp het verder die SAPD en die Kaapse Natuurbewaring gehelp om beslag te lê op verskeie beskermende plante asook om die persone in besit daarvan te arresteer.

Die Lutzville-plaaswag het ’n inbreker aangekeer en besluit om die diefstal van vrugte en neute te prioritiseer aangesien boere se plase gestroop word, bakkievragte word gedurig gesteel en mee gesmokkel. Die Nuwerus-plaaswag, die SAPD en die Kaapse Natuurbewaring het ook op plantdiewe toegeslaan wat in besit van beskermende plantspesies was.

“Hierdié was ’n goeie maand, en die operasies saam met die SAPD en die wíl om gemeenskappe veilig te hou, het groot suksesse tot gevolg gehad,” sê Eric van Zyl, voorsitter van die Matzikama-tak.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om sodoende hul omgewing te beveilig. Skakel Eric van Zyl by 072 305 4220 om by een van dié buurt- of plaaswagte aan te sluit.

Soortgelyke plasings