|

AfriForum-tak rig nuwe heining op by skoolparkie

’n Terrein aangrensend tot ’n kleuterskool in Bellville, wat voorheen die skuilplek van talle haweloses en dwelmverslaafdes was, is nou – danksy AfriForum se Kaapstad-Noord-tak – ’n veilige hawe vir kinders. Dié AfriForum-tak het onlangs besluit om die vervalle heining om EduZone-kleuterskool se speel- en parkeerarea te vervang en het dié projek nou ten bedrae van R33 000 afgehandel.

Hierdie opheffingsaksie spruit uit die samewerking tussen EduZone, die Baruch-kerk en Stad Kaapstad. Die Baruch-kerk, wat reg oorkant EduZone in Sydneystraat geleë is, het met Stad Kaapstad onderhandel en onlangs daarin geslaag om ’n huurooreenkoms vir die speelpark wat aan EduZone grens, te beklink.

Volgens Johan Crous, AfriForum se streekskoördineerder vir die Weskus, het hierdie terrein jare lank reeds hoofbrekens vir hierdie gemeenskap besorg. “AfriForum se Kaapstad-Noord-tak takel weekliks die opruiming van parkies in Bellville en die Sydneystraatpark was tot nou toe ’n gevaarlike plek en beslis nie ’n lushof vir kinders nie,” verduidelik hy.

Tydens ’n onlangse opruimingsaksie het die AfriForum-tak onder meer spuitnaalde en ’n groot hoeveelheid rommel op die terrein opgetel. “Dwelmgebruikers en haweloses het hierdie park oorgeneem en om die kleuterskool reg langs hierdie gevaarlike terrein te hê, was werklik nie geskik nie en het bepaalde risiko’s vir die kinders van EduZone, sowel as leerders van Baruch-kerk se skool en die res van die gemeenskap, ingehou,” benadruk Crous.

Die eerste stap in die opknapping van hierdie voorheen vervalle terrein was dus om die terrein te beveilig. Die oprigting van die heining was die eerste prioriteit en een waarmee AfriForum se Kaapstad-Noord-tak slaggereed was om te help.

“Ons het goeie verhoudinge met EduZone en Baruch, en waardeer die waardevolle werk wat Baruch in ons gemeenskap doen. Daarom was dit ’n eenvoudige besluit om deur die oprigting van die nuwe heining hierdie twee instellings in hul belangrike gemeenskapswerk te ondersteun,” sê Yolanda Fritz, bestuurslid van AfriForum se Kaapstad-Noord-tak wat dié projek gelei het.

Intussen het Baruch se pastoor, Juan Maritz, AfriForum bedank vir hul bydrae tot die beveiliging van kinders en die projek as ’n “groot daad” bestempel en benadruk dat hy byna nie “woorde het om sy dankbaarheid teenoor AfriForum te betuig” nie.

Die opknapping van die speelterrein sal in die komende maande onderneem word en beloof om uiteindelik vir die kleuters en skoolleerders hier ’n kindervriendelike hawe te wees.

Soortgelyke plasings