|

Wes-Kaapse polisie slegs Engels ‒ “diens” nou net in die naam van die SAPD

Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel die opdrag van die Wes-Kaapse polisiehoof, luit. genl. Thembisile Patekile, dat alle A1-verklarings en amptelike dokumentasie van die SAPD in dié provinsie in die vervolg slegs in Engels moet wees. Hierdie opdrag het die naweek in die media bekend geraak.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is dit nie die eerste keer wat ’n provinsiale polisiehoof ten gunste van eentaligheid besluit nie. “In die verlede is ’n soortgelyke opdrag in Limpopo gegee en AfriForum het klagtes daarteen by onder meer die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gelê. Die opdrag is daarna omgekeer. Skynbaar was daar ook regsaksie in die Noord-Kaap teen ’n opdrag van die aard. Tog herhaal die gebeure hulleself en teen die tyd wat die besluit omgekeer word, het heelwat onreg reeds geskied as gevolg van slagoffers en polisielede se onvermoë om Engels vlot te gebruik.”

Bailey het daarop gewys dat die oorgrote meerderheid van die Wes-Kaapse inwoners en polisielede nie moedertaalsprekers van Engels is nie. Die gevolg van taalfoute wat in ’n verklaring gemaak word, kan wees dat slagoffers ’n hofsaak verloor omdat hulle weergawe daar van dié in die oorspronklike verklaring verskil.

Juis omdat Suid-Afrika ’n veeltalige land is, maak die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Wet 12 van 2012) voorsiening vir die gebruik van ten minste drie tale op nasionale vlak en onderskeidelik ook die mees gebruikte drie tale per provinsie. Hierdie wetgewing word deur die kommissaris geïgnoreer met sy instruksie dat die polisie se “amptelike taal” (enkelvoud) gebruik moet word.

“Hierdie ommekeer na eentaligheid maak dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie in diens aan die gemeenskap wat dit veronderstel is om te dien, belangstel nie. Juis die mees weerloses word hierdeur geraak, soos minderjarige en minder geletterde slagoffers. Dit druis ook in teen die bepalings van die amptelike Dienshandves vir slagoffers van misdaad. Die eentalige beleid sal teengestaan word. AfriForum moedig alle lede van die Wes-Kaapse publiek wat probleme in dié verband ondervind aan om inligting hieroor te stuur aan afriforum@afriforum.co.za.”

Soortgelyke plasings