|

Gemeenskap span saam, patrolleer buurt nagenoeg 140 man-ure lank én installeer gevorderde nommerplaatherkenningskamera

588 km. Dít is hoe ver 49 vrywilligers die afgelope Vrydag (15 Maart) tydens AfriForum se Apiesrivier-buurtwag se massapatrollie binne 136,3 man-ure afgelê het. Dié nagenoeg 50 gemeenskapslede het die patrollering van die plotgebied in onder meer Bon Accord, Vastfontein, Bultfontein en Lusthof in 20 voertuie aangepak om deur middel van sigbare patrollering, wat voortaan op ’n maandelikse basis aangepak gaan word, ’n duidelike boodskap aan misdadigers te stuur dat misdaad geen plek in dié geweste het nie.

Die massapatrollie is aangebied deur die Apiesrivier-buurtwag en is ondersteun deur verskeie ander veiligheidsrolspelers in die gebied. Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek, word patrollies van dié aard altyd streng binne die raamwerk van die wet aangepak en AfriForum verseker deurlopend dat buurtwaglede deur middel van gehalte opleiding toegerus word vir dié belangrike gemeenskapsdiens. 

“Dit is vir AfriForum van kardinale belang om patrollies aan te pak om deur middel van onder meer sigbare patrollering die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” benadruk Steinberg. “Die Apiesrivier-buurtwag se maandelikse sigbaarheidspatrollie vorm ’n belangrike komponent in die algehele veiligheidsbenadering waardeur die gemeenskap self op ’n proaktiewe wyse ingryp en hul reg tot veilige gemeenskappe opeis.”

Dié tak het intussen as deel van sy veiligheidstrategie onlangs ook ’n tegnologies gevorderde nommerplaatherkenningskamera (bekend as ’n LPR-kamera) geïnstalleer. Dié kamera neem en digitaliseer voertuie se nommerplate en is ’n onmisbare hulpmiddel in die bekamping van misdaad en derhalwe die beskerming van die gemeenskap.

Volgens Steinberg is die kamera toegerus met gevorderde tegnologie wat nommerplate in ’n oogwink herken en met ’n databasis van verdagte voertuie vergelyk. Dit bied uitsonderlike inligting wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sal help om voertuie wat by misdaad betrek is, te identifiseer en op te spoor.

“AfriForum se Apiesrivier-buurtwag doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en hul veiligheid te prioritiseer. Raak betrokke en sluit vandag nog by AfriForum se Apiesrivier-buurtwag aan en word deel van die oplossing,” sluit Steinberg af.

Kontak die volgende persone vir meer inligting oor hoe om by die Apiesrivier-buurtwag in te skakel: Kobus Coetzer (buurtwagleier): 072 899 0788 / Colleen Gerber (taksekretaresse): 066 531 0319 / Renata Taljaard (takvoorsitter): 083 545 0319.

Soortgelyke plasings