|

Waterlek uiteindelik herstel ná Bronkhorstspruit-tak druk toepas

Volgehoue druk deur die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het vrugte afgewerp toe ’n waterlek in Generaal Louis Botha-straat uiteindelik op 14 September herstel is. Hierdie waterlek het veroorsaak dat die gemeenskap bykans vir ’n week geen watertoevoer gehad het nie.

AfriForum se Bronkhorstspruit-tak het deur die Tshwane-burgermeesterskantoor druk op die plaaslike bestuur uitgeoefen om die waterlek dringend te laat herstel. As gevolg van die huidige onwettige staking in die metro, is lede van die Tshwane-metropolisiediens ontplooi om die span wat die herstelwerk gedoen het, te beskerm.

“‘n Laaigraaf is by die begraafplaas gaan haal om die herstelwerk te doen. Die streekhoof van die Tshwane-metro, Jabu Mabona, was self daar om toe te sien dat die werk gedoen word,” sê Magda Lewis, voorsitter van AfriForum se Bronkhorstspruit-tak.

“AfriForum se plaaslike strukture sal aanhou om die nodige druk toe te pas om gemeenskappe in krisistye soos dié te ondersteun – dit is hoekom ons hier is.”

Raak vandag by die plaaslike AfriForum-tak betrokke deur ’n e-pos te stuur na voorsitter.bronkhorstspruit@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings