AfriForum-takke in Tswaing oorhandig wenslys en samewerkingsooreenkoms  


Die burgerregte-organisasie AfriForum se takke binne die grense van die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit, naamlik Delareyville, Ottosdal en Sannieshof, het op 6 Maart 2017 ’n wenslys aan dié munisipaliteit oorhandig.
Dít volg nadat bogenoemde takke verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het wat tot op hede nog nie deur die munisipaliteit in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangespreek is nie.

“Die plaaslike takke probeer al vir die afgelope twee maande om ’n vergadering met mnr. D. Moate, waarnemende munisipale bestuurder, te reël en het uiteindelik daarin geslaag om ’n afspraak met hom vas te maak. Verteenwoordigers van die drie takke het die vergadering bygewoon en die wenslys met Moate bespreek. Die vergadering het goed verloop en talle beloftes is gemaak. Ons gaan voortaan op ’n maandelikse basis met die munisipale bestuurder vergader om die vordering te moniteer,” sê Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Die AfriForum-tak in Delareyville het ook ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Centurion gesluit is aan D. Ramasedi, adjudant-offisier van die SAPD in Delareyville, oorhandig.

“Dié ooreenkoms het ten doel om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad te bevorder,” sluit Pretorius-Swart af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Tswaing” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings