AfriForum-teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool Roodekrans


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 21, 22 en 23 Januarie 2019 by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Dit is vir AfriForum belangrik om saam met hierdie rolspelers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om afknouery hok te slaan.

Op die eerste dag van Roddies se teenboelieweek het die leerders geleer dat ons soms onsself kan boelie en hoe om dit te oorkom. Op die tweede dag het Natasha Smit, ’n dieetkundige, verduidelik dat ons nie ander mense mag boelie omdat hulle anders lyk of optree as ons nie. Sy het die leerders aangemoedig om hul harte met positiewe dinge te vul – net soos gesonde kos wat ons liggaam voed – sodat positiewe eienskappe uit ons kan straal. Op dag drie het prof. Elmarie Kritzinger die leerders oor kuberafknouery ingelig en die impak van ’n digitale voetspoor verduidelik. Grow@Eduplus het ook ’n opvoedkundige poppekas oor boelie vir die junior leerders aangebied.

“Boeliebewusmaking in skole is baie belangrik omdat afknouery en selfhaat al van kleins af begin en die invloed daarvan soms tot volwassenheid saamgedra word. Kinders moet verstaan dat elkeen anders lyk en uniek gemaak is. Ek wil hulle graag leer om lief te wees vir hul eie liggame en dit goed te versorg. Dit waarmee jy jou liggaam voed, gaan jou energievlakke beïnvloed, asook hoe jy oor jouself en ander voel,” meen Natasha Smit, dieëetkundige van Natasha Smit Geregistreerde Dieetkundige.
“Boelies en afknouery voer ’n skrikbewind in die meeste van ons skole en volgens statistieke word meer as 50% van kinders in Suid-Afrikaanse skole afgeknou of was al slagoffers van afknouery. Grow@Eduplus se teenboelieprogram STOP DIE BOELIE bestaan uit ’n interaktiewe poppekas wat leerders bewus maak van alle vorme van boeliegedrag en hoe om dit op te los. Begrippe soos respek, liefde, vriendelikheid, empatie, selfbeheersing en vergifnis vorm ’n integrale deel  van ons aanbieding en dit is so belangrik om dit van jongs af by kinders te kweek,” sê Diana van Heerden van Grow@Eduplus.
“Tegnologie en die internet is vandag ’n onlosmaakbare deel van ons samelewing. Selfs vir ons kinders is die kuberruim nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid. Daarom moet kubergebruikers weet hoe om hulself en hul persoonlike inligting teen kuberboelies te beskerm,” sê professor Elmarie Kritzinger van UNISA.
“Roodies is ’n waardegedrewe skool wat daarna streef om afknouery heeltemal uit te wis. Ons fokus op vyf spesifieke waardes, naamlik verantwoordelikheid, omgee vir ander, eerlikheid, integriteit en respek. Dit is ook vir ons belangrik dat ons leerders die verskil tussen afknouery en gesonde konflikhantering moet ken en verstaan. Ons wil dus kwartaalliks sprekers reël om in samewerking met AfriForum bewustheid oor afknouery by ons leerders en onderwysers te skep,” sê Deon Rousseau, hoof van Laerskool Roodekrans.
“Laerskool Roodekrans se teenboelieweek was voorwaar ’n reusesukses en dit is altyd lekker om te sien dat ’n skool soveel moeite met sy leerders doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings