AfriForum sluit suksesvolle Maand van Selfstandigheid-veldtog af vir 2017


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog vir 2017, wat op Paul Kruger se verjaardag op 10 Oktober 2017 afgeskop het, het nou tot ’n einde geloop.
Tydens vanjaar se veldtog het AfriForum-gemeenskapstrukture regoor die land skouer aan die wiel gesit om tot skoner, veiliger dorpe en stede by te dra deur altesaam 63 selfdoenprojekte te voltooi. Die aksies wat aangepak is, het ten doel om leemtes in munisipale dienslewering te vul en om gemeenskappe te organiseer om self in te spring en hul omgewing te verbeter.

“Gemeenskappe is besig om te besef dat hulle nie uitgelewer is aan ’n onbevoegde regering nie. Ons bevorder gemeenskapselfstandigheid deur selfdoenprojekte, en dít stuur ’n kragtige boodskap van hoop,” sê Johann Weber, streekshoof van AfriForum se noordelike provinsies.

Weber noem dat, hoewel daar vanuit sekere oorde die gevoel kan bestaan dat AfriForum bloot besig is om die regering se werk te doen terwyl regeringsamptenare agteroor sit en lag, AfriForum inderdaad besig is om dienslewering te privatiseer en dat alle projekte deur die organisasie se lede befonds word, wie se donasies van hul belastingopgawes aftrekbaar is.
AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog is sedert 2015 ’n jaarlikse instelling wat fokus op die skoonmaak en instandhouding van dorpe en stede. Van die aksies wat vanjaar plaasgevind het, sluit in:

  • Die skoonmaak van die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria op 10 Oktober.
  • Die AfriForum-tak in Vryburg het die geskiedkundige Groot Trek Monument beveilig deur ’n veiligheidsmuur daarom te bou.
  • Die AfriForum-tak in Ellisras het in samewerking met die gemeenskap die parkie in Peerboomstraat skoongemaak en opgeknap, en rommel opgetel is; klimrame en strukture is geverf en reggemaak, en besproeiing en watertoevoer tot die parkie herstel is.
  • AfriForum se Potchefstroom-tak het in totaal 106 slaggate herstel. Dié tak is welbekend vir sy slaggatprojek en het vanjaar reeds meer as 2 000 slaggate in dié dorp herstel.
  • AfriForum se Pretoria-Oos-tak het saam met die Garslink-gemeenskapspolisiëringsforum, polisiereserviste, verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye (insluitend Chubb, Bull Security, ADT, Accon Security en High Risk Security) en gemeenskapslede die gebied rondom die Moreletaspruit skoongemaak.
  • AfriForum-takke in Delareyville en Standerton het hul dorpe beveilig deur verlore en moeilik sigbare stoptekens te vervang.

Wys jou steun vir dié aksies deur “Selfdoen” na 45344 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings