|

AfriForum verkla Emfuleni by MRK oor rou riool in erwe

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het op 2 September ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie (SAMRK) teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit  ingedien oor die riool wat in erwe in die CW-gebiede in Vanderbijlpark opdam.

Vir die laaste paar maande word die gemeenskap in die CW-gebiede gereeld geraak deur rou riool wat in hul erwe opstoot weens ’n stukkende rioolpyplyn. Die Emfuleni-munisipaliteit het tot op hede nog geen vooruitsigte om die pyp te vervang nie.

Inwoners is basies in hul huise gekluister as gevolg van die riool in hul erwe. Die riool hou ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners in en die reuk wat in die lug hang is ondraaglik.

Die SAMRK-klagte volg nadat AfriForum op 12 Augustus ’n brief aan die Emfuleni-munisipaliteit oor die rioolprobleem gestuur het, maar geen terugvoer ontvang het nie. In die brief sê AfriForum dat riool in die CW-gebiede opbou as gevolg van rioolpyplyne wat in duie stort omdat dit nie in stand gehou word nie.

Verder in hierdie brief het AfriForum geëis dat die munisipaliteit toesien dat ’n aksieplan opgestel en geïmplementeer word om die rioolpyplyne in die CW-gebiede te herbou.

Die organisasie het ook versoek dat:

  • die mangate wat oorloop dringend aandag geniet;
  • die verstopte afvoerpype oopgemaak word;
  • die stukkende afvoerpype vervang en toegemaak word;
  • die areas wat reeds besoedel is, skoongemaak word; en
  • dat die munisipaliteit AfriForum voorsien van sy aksieplan vir die instandhouding van die rioolinfrastruktuur om te voorkom dat riool weer in die pype opbou.

“Dit is onaanvaarbaar dat die Emfuleni-munisipaliteit so blatant mense se regte skend deur hulle in sulke haglike omstandighede te laat woon, omdat die munisipaliteit onbevoeg is om hul werk te doen. Die munisipaliteit het ’n baie swak reputasie oor hul onvermoë om die rioolprobleem op te los,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Soortgelyke plasings