|

Paarl-Noord-buurtwag beskerm onklaar vragmotor teen booswigte

Die tydige reaksie van AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag het toegesien dat ’n vragmotor wat verlede week op die N1 onklaar geraak het, nie deur booswigte geplunder is nie. Dié buurtwag het vir ure lank die vragmotor help beveilig totdat ’n insleepdiens dit verwyder het.

Die betrokke vragmotor het op 23 April op die N1 net voor die Lustigan- en Drakensteinweg brug tot stilstand gekom. Die eienaar van die vragmotor, wat ’n lid van AfriForum se Albertinia-plaaswag is, het kort nadat die vragmotor onklaar geraak het die hulp van AfriForum se buurtwagte, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsmaatskappye ingeroep, aangesien ’n groep mans probeer het om die vragmotor se vrag te buit.

Die Paarl-Noord-buurtwag het deur AfriForum se netwerk van veiligheidstrukture oor die situasie te hore gekom en drie lede het dadelik die gestrande vragmotorbestuurder te hulp gesnel. ’n Lid van die SAPD en SJC Security het saam met die AfriForum-buurtwag gereageer en daarin geslaag om die vragmotor en sy vrag te beveilig.

Die groep mans wat probeer het om die vragmotor te plunder het egter gefaal en reeds op die vlug geslaan. Volgens die eienaar van die vragmotor het dié mans wel gedreig om terug te kom en die vrag te buit. As sodanig het lede van die Paarl-Noord-buurtwag en ’n lid van die Denneburg-buurtwag saam met die eienaar van die vragmotor en sy assistent gebly om die vragmotor te beveilig. ’n Insleepvoertuig het sonder insident daarin geslaag om die vragmotor weg te sleep.

“AfriForum bly daartoe verbind om te verseker dat die inwoners van die Paarl veilig is. Dié tak en sy buurtwag sal voortgaan om hulp aan kwesbare inwoners te verleen en hegte bande met wetstoepassers te smee,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Maak vandag nog ’n verskil in jou gemeenskap en sluit aan by AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag aan: Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings