AfriForum verkla Malema by die SAMRK oor rassistiese uitsprake teen Indiërs


Die burgerregte-organisasie AfriForum dien vandag klagtes van rassisme en diskriminasie teen sowel die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) as organisasie as Julius Malema (leier van die EFF) en Mbuyiseni Ndlozi (woordvoerder van die EFF) as individue by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) in.
Die klagtes spruit uit opmerkings wat Malema die afgelope naweek by die EFF se politieke saamtrek in Durban gemaak het, asook ’n verklaring wat sedertdien deur Ndlozi uitgereik is.
In die klagtes voer AfriForum aan dat die EFF se optrede ’n oorskryding van die Gelykheidswet, 2000 (wetno. 4 van 2000) se bepalings oor diskriminasie is.

Malema het luidens nuusberigte die volgende gesê: “Here in Durban, here in KZN, everything strategic is given to Indians … every big tender … they are the ones who own everything. We are saying share with our people. They are ill-treating our people. This is not anti-Indian, it’s the truth, they must treat our people properly.”

Ndlozi het sedertdien in ’n mediaverklaring gesê dat die EFF bankvas agter Malema staan en bygevoeg dat Indiërs dink dat hulle beter as swart mense is en dat dit neerslag vind in die manier waarop hulle teenoor swart mense optree.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat AfriForum op die beskerming van minderhede se regte geskoei is. “Indiërs is ’n minderheidsgroep en word ook deur die EFF as gemeenskap geteiken. Die EFF dryf ’n populistiese agenda waarin rassisme teenoor minderhede aangehits word in ’n poging om steun te mobiliseer.”
Roets sê verder dat AfriForum van die SAMRK verwag om die saak spoedig te ondersoek, asook om gepaste stappe in hierdie verband te neem.

Soortgelyke plasings