Water
|

AfriForum versoek premier van die Noord-Kaap om by diensleweringsprobleme in te gryp

AfriForum se takke in die Noord-Kaap het dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, genader om in te gryp by voortslepende diensleweringsprobleme wat in dié provinsie ondervind word. AfriForum het ’n skrywe hieroor aan Saul gerig en versoek om met hom te vergader om die talle probleme, insluitende die voortdurende wateronderbrekings in Kimberley, te bespreek.

Die gebrek aan dienslewering in die provinsie eis nou dringende optrede, meen AfriForum. Die burgerregteorganisasie eis daarbenewens dat staatsamptenare verantwoordelik gehou moet word vir die gebrek aan dienslewering veral omdat die gebrekkige dienste ernstige gevolge vir die gesondheid én veiligheid van gemeenskappe in die Noord-Kaap inhou.

AfriForum se Noord-Kaap-takke het intussen ook munisipaliteite daarop gewys dat gemeenskappe se veiligheid in die weegskaal geplaas word weens dienslewering wat ontbreek. In ’n skrywe aan die Sol Plaatje Munisipaliteit is kapsie gemaak teen die gereelde wateronderbrekings in Kimberley. Die inwoners op dié dorp is dikwels vir dae of weke lank sonder water. Die probleem spruit uit swak instandhouding en amptenare wat versuim om hul verpligtinge, soos uiteengesit in die Grondwet, na te kom.

Die watertekort in Kimberley is ’n groot gesondheids- en veiligheidsrisiko, daarom eis AfriForum se takke in die Noord-Kaap dat die munisipaliteit tydige oplossings vir die probleem bied.

Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, het nog ’n brief aan die Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin die aandag gevestig is op Barkly-Wes se straatligte wat al vir jare lank gebreek is. Ondanks verskeie klagtes oor die gemeenskap se veiligheid is daar steeds niks aan die gebreekte ligte in Alphaweg en Saamloopstraat gedoen nie.

Dié munisipaliteit is intussen versoek dat die gebreekte straatligte so gou moontlik vervang word om die gemeenskap te help beveilig.

“Die gebrek aan toegang tot skoon water en werkende straatligte is ’n groot bekommernis vir die veiligheid en welstand van gemeenskappe. Diegene in magsposisies moet dus vinnig optree en ’n duidelike tydlyn vir die oplossings verskaf,” sê Van der Linden. 

AfriForum het die publiek aangemoedig om waaksaam te bly en optrede te eis van diegene in magsposisies deur burgerregteorganisasies soos AfriForum te ondersteun wat hom vir gemeenskappe beywer. Saam kan positiewe verandering teweeggebring word. Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings