AfriForum verkla munisipale bestuurder weens finansiële wangedrag


Die AfriForum-tak in Paulpietersburg het mnr. T.V. Mkhize, die munisipale bestuurder van die eDumbe-munisipaliteit, van finansiële wangedrag by die burgemeester verkla en versoek dat daar teen hom opgetree word. Dit volg nadat daar onlangs ’n skut in Paulpietersburg met munisipale infrastruktuurtoelae gebou is en dié fasiliteit binne ’n jaar besteel is.

Volgens die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 is die munisipale bestuurder verantwoordelik vir munisipale bates. Die munisipale bestuurder moet ook ingevolge artikel 63 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 die munisipaliteit se bates bestuur, beveilig en onderhou.

“Mkhize het duidelik sy plig in hierdie verband versuim en daarom het ons die burgemeester versoek om op te tree,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se streekskoördineerder vir KwaZulu-Natal.
“Ons het ook die plaaslike en nasionale tesourie van ons klagtes in kennis gestel, soos die Wet vereis,” voeg Van Aswegen by.

AfriForum sal regstappe oorweeg indien daar nie teen die Mkhize opgetree word nie.
Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help deur jou naam na 45267 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings