|

AfriForum veroordeel “Kill the Boer”-boodskap van Vrystaatse munisipale direkteur, eis afdanking

AfriForum het vandag ’n WhatsApp-boodskap op ’n senior bestuursgroep van die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaat, waarin ’n direkteur na bewering geskryf het “The best is to kill the Boer”, ten sterkste veroordeel en geëis dat die betrokke direkteur dadelik uit haar pos onthef word. AfriForum benadruk dat dié beweerde opmerking deur Disebo Motaung rassisties is en geweld aanmoedig.

Motaung se volle boodskap om die bestuursgroep lui, volgens inligting, soos volg: “Joo MM still we are exposed to danger We need to have guns that’s all We are not protected by the or the banks The best is to kill the Boer”. Dié stelling is gevolg deur ’n emotikon van ’n hand met gekruisde vingers. Dié simbool word algemeen gebruik om hoop uit te spreek op ’n positiewe uitkoms.

Dié beweerde boodskap deur ’n senior openbare amptenaar is volgens AfriForum uiters kommerwekkend, moedig verdeeldheid en haat aan en het die potensiaal om gewelddadige optrede te ontlok.

“Daar word van openbare amptenare verwag om deur hul voorbeeld te lei en vrede en eenheid binne hul gemeenskappe te bevorder. Wanneer ’n leier egter vir geweld pleit, stel dit lewens in gevaar,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Volgens Broodryk mag die erns van stelling soos dié nie onderskat word nie. “In ’n land waar gewelddadige aanvalle op boere ’n harde werklikheid is, kan sulke stellings nie bloot aanvaar word nie.”

Die omvang en erns van plaasaanvalle bly steeds ’n reuseprobleem, meen Broodryk. AfriForum se jongste verslag oor plaasaanvalle en -moorde toon dat 49 plaasmoorde (0,94 moorde per week) gedurende 2023 plaasgevind het in 296 aanvalle (of 5,7 plaasaanvalle per week).

Soortgelyke plasings