|

Dink of Sink: Pretoriase laerskole debatteer ’n hond uit ’n bos

Die eerste Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir laerskole het op 29 Februarie by Hoërskool Montana plaasgevind. Die doel van die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is om debat in Afrikaans op skool- en universiteitsvlak te bevorder. Vorige jare is dié kompetisie slegs vir hoërskole en universiteite aangebied, maar in 2024 kon Gautengse laerskole ook hulle graad 6 en 7 leerders inskryf. 

Altesaam 42 leerders van Laerskool Anton van Wouw, Laerskool Constantiapark en Laerskool Pretoria-Oos in Pretoria het in 14 spanne deelgeneem. Laerskool Anton van Wouw het in die finaal teen Laerskool Pretoria-Oos deelgeneem en as wenners uit die stryd getree.

“Dit was werklik ’n belewenis om te sien hoe hierdie kinders die geleentheid om te debatteer aangegryp het. Dit was baie van hulle se eerste debatsgeleentheid en dit was boonop onvoorbereid! Hulle het gewys wat in hulle steek met goed geformuleerde argumente wat hulle met selfvertroue aangebied het,” sê Nicolene Müller, projekkoördineerder vir Onderwys by AfriForum.

“Ons het aan die begin van Februarie werksessies vir die laerskole aangebied en ons staan in verwondering oor wat hulle in minder as ’n maand kon vermag. Dit is ’n voorreg om hierdie geleentheid aan te bied en ons sien uit om in die komende jare te sien hoe die kinders groei,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings