|

AfriForum-verslag wys op patetiese vervolgingskoers van plaasaanvallers en -moordenaars

AfriForum het vandag ’n verslag uitgereik waarvan die syfers ’n donker prentjie van die vervolgingskoers van plaasaanvallers en -moordenaars skets. Minder as 5% van plaasaanvalle en -moordinsidente wat van 2019 tot 2022 deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangeteken is, het tot dusver tot skuldigbevindings gelei.

Daar was volgens die SAPD se amptelike syfers 1 402 plaasaanvalle en -moordinsidente vir die periode vanaf 2019 tot 2022, maar slegs 66 skuldigbevindings.

Van al die provinsies het die Wes-Kaap die hoogste persentasie arrestasies (naamlik 67%) vir plaasmoordinsidente aangeteken. Gauteng het die minste arrestasies in plaasmoordinsidente gemaak en het net in 11% van plaasmoordinsidente wat in dié provinsie aangeteken is, tot dusver enige arrestasies gemaak. In terme van skuldigbevindings ná arrestasies van verdagtes betrokke by plaasmoordinsidente, het KwaZulu-Natal persentasiegewys die beste gevaar, en kon 55% van arrestasies omskakel in skuldigbevindings. Daarenteen was daar nie ’n enkele skuldigbevinding gemaak in enige plaasmoordinsident wat vanaf 2019 tot 2022 in Gauteng, die Noord-Kaap, Mpumalanga of Noordwes plaasgevind het nie.

“’n Mens kan net spekuleer oor die redes vir die lae vervolgingskoers, maar dit kan waarskynlik toegeskryf word aan swak ondersoeke, die kompleksiteit van die sake of swak interaksie tussen die SAPD en Nasionale Vervolgingsgesag,” sê Johan Nortjé, navorser by AfriForum en samesteller van die verslag.

Nortjé sê wanneer daar na die sukses van die regering se Nasionale Strategie vir Landelike Veiligheid gekyk word, is dit sinneloos om net na arrestasies te kyk en moet suksesvolle vervolgings ook in berekening gebring word. As ’n mens dit wel doen, is dit duidelik dat die regering glad nie goed vaar nie.

Slagoffers van plaasaanvalle en -moorde verdien geregtigheid.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, is boere se indiensneming van onwettige immigrante een van die redes wat die regering graag vir al die plaasaanvalle in Suid-Afrika voorhou.

“Die verslag het ook gekyk na die aanvallers se nasionaliteit en die oorgrote meerderheid van verdagtes wat in hegtenis geneem word, is Suid-Afrikaners. Derhalwe is die grootste persentasie van verdagtes wat uiteindelik skuldig bevind word, plaaslike burgers. Daar is dus maar ’n klein persentasie van aanvalle wat aan buitelanders toegeskryf kan word,” sê Broodryk.

“President Cyril Ramaphosa het ook al in die buiteland ontken dat daar plaasaanvalle in Suid-Afrika plaasvind en dit terwyl aanvalle ’n alledaagse verskynsel geword het. Die aanvalle gaan dikwels gepaard met ernstige geweld en dan word daar soms niks by die slagoffers gesteel nie. Alhoewel die ANC-regering bitter min doen om boere te beskerm, het AfriForum al baie gedoen om boere, hul gesinne en werkers veilig te hou. Dit sluit onder meer die veiligheidsopleiding van mense op plase en die verdere uitbouing van ons veiligheidstrukture in.”

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid

Gemeenskapsveiligheid by AfriForum het in 2019 ’n databasis begin wat syfers van plaasaanvalle en -moorde byhou. Die aanvanklike idee was om deur middel van dié databasis onder meer neigings in plaasaanvalle te bepaal en ’n strategie te ontwikkel wat in die beveiliging van plase toegepas kan word. Die tweede rede vir die ontwikkeling van die databasis was om self rekord van aanvalle te hou. Indien die SAPD dus besluit om nie statistiek oor dié misdaad bekend te maak nie, wat wel al in die verlede gebeur het, beskik AfriForum dan oor ’n betroubare databasis van plaasaanvalle.

Volgens AfriForum se databasis van plaasaanvalle was daar van 2019 tot 2022 182 plaasmoordinsidente (dus plaasaanvalle waarin ten minste een persoon dood is). Die SAPD het net 153 insidente vir dieselfde tydperk aangemeld. Die rede vir die verskil in statistiek is onbekend.

Johan Nortjé, navorser by AfriForum

Nortjé kom in die verslag tot die gevolgtrekking dat die vervolgingskoers van plaasaanvallers en -moordenaars uiters laag is. Dié lae koers kan daartoe lei dat die aanvallers aanhou om aanvalle uit te voer en dat die slagoffers van die aanvalle met die wete leef dat hierdie misdadigers nog op vrye voet is.

“Slagoffers van plaasaanvalle en -moorde verdien geregtigheid, maar die verslag toon dat die wiele van die regstelsel stadig draai en dikwels oneffektief is. Daar is baie gevalle waar geregtigheid nooit geskied nie en die slagoffers noodgedwonge daarmee moet saamleef,” sê Nortjé.

Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings