|

Ingryping deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid lei tot versnelde heropening van Wierdaweg

Danksy AfriForum se privaatvervolgingseenheid en bekommerde sakelui sal Wierdaweg (M10) na verwagting teen einde September weer toeganklik wees vir motoriste. Dit volg nadat ’n sinkgat in November 2022 hier gevorm het en daar sedertdien besluiteloosheid was oor wie verantwoordelik is vir die herstel van die pad.

Die privaatvervolgingseenheid het ’n brief aan Kedibone Diale Tlabela, Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, gestuur om die regering in kennis te stel van die nadelige gevolge wat die sluiting van hierdie pad vir sakelui inhou. Die privaatvervolgingseenheid is deur die eienaars van Lots of Pots, Sasol Lyttelton Manor, Royal Elephant Hotel en die KappiChino-koffiekroeg om hulp genader.

Die eenheid kon daarin slaag om ’n unieke samewerkingsverhouding te bewerkstellig tussen plaaslike regering, sakelui, private kontrakteurs en diensverskaffers. Die omvang van die sinkgat is spoedig geëvalueer en ’n plan is in werking gestel om die pad te herstel. Die privaat kontrakteurs het op 25 Augustus gesê dat die pad weer teen einde September oop sal wees.

Gereelde vergaderings tussen die verskeie rolspelers is deur die privaatvervolgingseenheid geïnisieer en gelei deur adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid. “Die regering se bereidwilligheid om openlik met ons in gesprek te tree tydens hierdie maandelikse, vroegoggendvergaderings het daartoe gelei dat die herstel en heropening van hierdie pad geprioritiseer is. Hierdie vergaderings is bygewoon deur die adjunk-direkteur-generaal vir Paaie en Vervoer, Mmaphuti Mokobane en verskeie senior lede van sy departement, asook Anton Els en Pieter Smith van Lots of Pots en die span by die privaatvervolgingseenheid.”

“Die eenheid wil graag ’n spesiale woord van dank uitspreek aan Hendrik van den Berg van Civil Concepts en Henk Daling, wat Bondev as privaat kontrakteurs verteenwoordig, vir hul pogings en bydraes om die probleem op te los,” voeg Nel by.

“Ons kry  nie elke dag die geleentheid om die regering te komplimenteer  nie, maar ons kan onomwonde verklaar dat ons beïndruk is met mnr. Mokobane en sy span. Ons hoop dat hierdie sukses almal sal aanspoor om betrokkendheid en toewyding te steun ten einde infrastruktuurprobleme die hoof te bied. Die sakegemeenskap in die omgewing van die Wierdabrug, veral Els en Smith, het gewys dat ons in die oplossing van gemeenskapskwessies meer kan bereik deur konstruktiewe betrokkenheid as deur gewelddadige protes,” sluit Nel af.

Smith sê dat die pad se sluiting hul onderneming die afgelope 10 maande geweldige skade berokken het. “Weens Lots of Pots se ligging het ons talle kliënte verloor omdat hulle ’n ompad moes ry om by ons uit te kom. Ander ondernemings is ook negatief hierdeur beïnvloed. Ons is egter baie dankbaar vir die toewyding, voortgesette ondersteuning en aanhoudende opvolg waarmee AfriForum se privaatvervolgingseenheid, owerhede en ander belanghebbendes te werk gegaan het om hierdie pad te herstel.”

Soortgelyke plasings