|

AfriForum se Potchefstroom-tak verf padmerkers as deel van #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Potchefstroom het die afgelope Saterdag hande vuil gemaak en ’n bydrae tot verbeterde padveiligheid in dié dorp gemaak. Padmerkers by die verkeerslig by die Hoër Tegniese Skool Potchefstroom in M.C. Rhoodestraat is as deel van AfriForum se #OnsDorp-projek geverf.

Dié aksie is in samewerking met Werner van Onselen (wyksraadslid van wyk 23), aangepak. Van Onselen het die verf en toerusting voorsien, terwyl AfriForum-taklede moue opgerol en die verfwerk hanteer het.

’n Handjievol taklede het met dié aksie bewys dat dit nie oor getalle gaan nie, maar eerder oor die verskil wat gemaak kan word as gemeenskappe inspring en selfdoen. Verbygangers was ook oorbluf deur die positiewe bydrae wat gemaak is met dié aksie.

“Selfs die sakegemeenskap op Potchefstroom het ’n bydrae gemaak tot dié aksie en Pick n Pay in Van der Hoffpark het werkers met eet- en drinkgoed bederf,” verduidelik Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek. “Dit is lekker om te kon sien hoe mense ’n verskil kan maak. Die samewerking op verskeie vlakke wys net weer dat inwoners moet hande vat om dinge gedoen te kry.”

Volgens Pretorius word daar intussen beplan om met die oorblywende verf nog opknappingswerk aan Potchefstroom se padmerkers te doen. “Hou die groepe dop vir meer inligting. Ons sien uit daarna om die betrokkenheid van inwoners in dié wyk te laat groei,” verduidelik Pretorius.

Raak by AfriForum se Potchefstroom-tak betrokke en help om ’n verskil in jou dorp te maak. Kontak Douglas Bourn by 083 232 1020 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings