AfriForum versoek justisieminister om korrupte streekshoof te verwyder


Die burgerregte-organisasie AfriForum het Michael Masutha, minister van justisie, in ‘n skrywe versoek om adv. Hishaam Mohamed, hoof van die Wes-Kaapse departement van justisie, uit sy pos te verwyder.
Adv. Mohamed is in Desember 2016 geskors vanweë die feit dat 185 klagtes teen hom aanhangig gemaak is, wat nepotisme, (seksuele) teistering, bedrog, manipulasie, inmenging en dwarsboming van ondersoeke na onregmatige bedrywighede, onbehoorlike beïnvloeding en heelparty ander klagtes insluit.

“Fluitjieblasers het AfriForum om hulp genader nadat Mohamed op 15 Mei vanjaar na sy kantoor teruggekeer het, nadat adv. Vusi Madonsela, direkteur-generaal van die departement van justisie, beslis het dat die 185 klagtes wat teen Mohamed aanhangig gemaak is, departementeel hanteer moet word,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die Wes-Kaap.
“Dit wil voorkom asof Mohamed immuun is teen vervolging vanweë sy politieke bande met hooggeplaaste amptenare binne die ANC. (Adv. Mohamed is die swaer van Ebrahim Rasool, voormalige premier van die Wes-Kaap.) Mohamed voer ‘n skrikbewind in die Wes-Kaapse departement van justisie. Senior landdroste word summier uit hulle poste verwyder om met junior, onervare landdroste vervang te word,” voeg Van Dalen by.
Klagtes wat via die presidensiële klagtelyn teen adv. Mohamed aanhangig gemaak is, is na adv. Mohamed self terugverwys om ondersoek te word. “AfriForum glo aan die onafhanklikheid van die regbank, waarin die departement van justisie ‘n leidende rol het om te speel, en amptenare wat hulself skuldig maak aan boewery, intimidasie en manipulasie, moet aan die kaak gestel word,” sluit Van Dalen af.

AfriForum beskik oor die volle besonderhede en bewyse van die bewerings teen adv. Mohamed. Die fluitjieblasers is ook bereid om hulle samewerking te gee met ‘n onafhanklike ondersoek, mits hul beskerming sal geniet ingevolge die Wet op Beskermde Bekendmakings, 2000 (wetno. 26 van 2000). Die burgerregtewaghond het die minister van justisie drie dae gegun om op die skrywe te reageer.

Soortgelyke plasings