AfriForum-buurtwagte in Tshwane-metro bekamp misdaad met massapatrollie


AfriForum se Bronkhorstspruit-, Hennopsriviervallei-, Meyerspark-, Moreleta-, Pretoria-Wes-, Rayton-en-Cullinan- en Wes-Moot-buurtwag het op 6 April in samewerking met die Tshwane-metropolisie, die SAPD in die Tshwane-metro en talle ander veiligheidsinstansies aan die burgerregtewaghond se nasionale massapatrollie deelgeneem. Die patrollie het om 16:00 afgeskop en tot 6:00 die volgende oggend geduur.
Altesaam 434 patrolleerders het nagenoeg 8 620 km in 257 voertuie afgelê. Sewe insidente is suksesvol hanteer.

“Die sukses van die nasionale patrollie lê in gemeenskappe wat saamstaan en saamwerk om misdaad te bekamp. Misdaad raak almal en daarom doen AfriForum ’n beroep op gemeenskappe om toenemend by veiligheidstrukture betrokke te raak,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

AfriForum wil elke buurtwaglid bedank vir sy/haar deelname aan die nasionale patrollie, asook die Tshwane-metropolisie, die SAPD en elke privaat instansie wat deelgeneem het.
Die burgerregte-organisasie doen ’n beroep op die onderskeie gemeenskappe in die Tshwane-metro om by plaaslike AfriForum-takke betrokke te raak en aktief aan die aktiwiteite van die buurtwagte deel te neem. Vir meer inligting hieroor, stuur ’n e-pos na lambert.deklerk@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings