AfriForum verwelkom Theo de Jager se herverkiesing tot president van die WLO


AfriForum wens graag vir dr Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van die Suider-Afrikaanse Agri-Inisiatief (Saai), geluk met sy herverkiesing tot president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) vandag in Luxemburg. Dit is die eerste maal in die WLO se geskiedenis dat ’n president vir twee termyne dien.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het dr. De Jager se herverkiesing verwelkom en hom sterkte met sy termyn toegewens. “Ons is baie positief hieroor en is van mening dat dr. De Jager se herverkiesing hom ’n groter internasionale platform sal gee van waar hy standpunt namens familieboere kan inneem.”

“AfriForum is ook van mening dat dr. De Jager se posisie hom geleentheid vir internasionale skakeling bied waar hy met belangrike rolspelers kan praat en Suid-Afrikaanse kwessies soos plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding onder hul aandag kan bring,” sê Kriel.

AfriForum en Saai werk saam om kwessies van gemeenskaplike belang – soos onder meer plaasveiligheid en teenstand teen onteiening sonder vergoeding – aan te pak.

Soortgelyke plasings