AfriForum vra uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit vir ’n aksieplan oor afgesperde strate

 

AfriForum se tak in Pongola het vroeër vandeesweek ’n versoek aan die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit gerig om ’n aksieplan voor te lê oor sommige van die dorp se hoofstrate wat afgesper is. Dit volg nadat padwerke hier begin is in Mei vanjaar.
Die afsperring van dié strate veroorsaak dat plaaslike ondernemings maandeliks duisende rande verloor as gevolg van die ontoeganklikheid van hul ondernemings.

“Kontrakteurs is reeds in Januarie 2017 aangestel, maar hierdie proses is eers in Maart 2017 gefinaliseer. Konstruksie moes reeds teen einde Julie voltooi gewees het. Die munisipaliteit het tydens ’n vergadering in September vanjaar aangedui dat die projek teen einde Oktober 2017 voltooi sal wees,” sê Marilda Schoombee, bestuurslid van die AfriForum-tak in Pongola.

Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, sê die burgerregte-organisasie het die munisipaliteit 48 uur gegee om met ’n aksieplan na vore te kom, anders sal die organisasie genoop wees om ’n klagte by die nodige owerhede op provinsiale- en nasionaleregeringsvlak te lê.

Soortgelyke plasings