|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek skole in Krugersdorp

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 4 Augustus by die Laerskool Kenmare, die Clearview-tutorsentrum en Protie Kleuter Akademie in Krugersdorp besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“By Kennies doen ons baie om boeliegedrag hok te slaan. Boeliegedrag word nie by Laerskool Kenmare geduld nie en enige vorm van boeliegedrag word dadelik hanteer. Ons projek, Wees ’n Buddy, nie ’n Boelie nie, vind dwarsdeur die jaar plaas waar ons ons Kennie-kampioene aanmoedig om mekaar te ondersteun en om te gee vir mekaar. Elke klas het twee buddy-verteenwoordigers wat kwartaalliks aangewys word om te verseker dat klasmaats ondersteunend is. Hulle help ook nuwe maats in ons skool om vinnig in te skakel en welkom te voel. Ons kry ook gereeld sprekers en organisasies soos AfriForum om ons skool te besoek as deel van ons teenboelieveldtogte,” sê Pauline Nel, departementshoof van opvoedkundige leiding by die Laerskool Kenmare.

“Dit is só belangrik om kinders daarvan bewus te maak dat boeliegedrag nie geduld moet word nie. Kinders wat konstant blootgestel word aan fisiese of verbale boeliegedrag kan op die ou end besluit om die uiterste stap van selfmoord te neem; hulle voel hulle kan nie opstaan teen die boelies nie omdat hulle gedreig word. Kinders moet bemagtig word om boeliegedrag te identifiseer en dan op te tree en te praat. Die vrees vir boelies moet totaal geïllumineer word sodat kinders nie ’n slagoffer word van hierdie onaanvaarbare gedrag nie,” sê Kobie Smith, eienaar van die Clearview-tutorsentrum.

“Ouers gee nie die nodige opvoeding aan hul kinders rakende boeliegedrag nie. Hulle verstaan in baie gevalle nie wat as ’n geboelie beskou word nie en dus word daar selde of ooit deur die ouers ondersoek ingestel oor ’n voorval,” sê Helena Koekemoer, hoof by Protie Kleuter Akademie.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings