|

AfriForum wen plantasiesaak teen Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit met koste

Die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit het ’n kontrakteur aangestel om as opsigter om te sien na die plantasies by Grootgewachtdam. Hierdie aanstelling was onwettig. Die kontrakteur het later begin om die plantasies op te kap en die hout verkoop vir eie gewin. Lede van AfriForum se Vryheid-tak het hiervan te hore gekom en dadelik opgetree om die onwettighede stop te sit.

Volgens André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak, was daar geen behoorlike ooreenkoms in plek om te bepaal watter plantasie teen watter prys verkoop mag word nie. “Hierdie was eintlik net ’n manier waarop lede van die raad en munisipaliteit hulle vriende kon inkry om hulself te verryk en hierdie feit word ook in die regter se uitspraak weerspieël.”

Die uitspraak bepaal dat die aanstelling van die kontrakteur deur die hofbevel tersyde gestel word en enige vorm van wins word van die kontrakteur ontneem. Voorts moet die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit binne 30 dae ’n opname doen, in oorleg met spesialiste se insette, oor die presies waarde van die hout wat geoes was. Die munisipaliteit moet hierdie verslag aan die hof en aan AfriForum voorlê om die akkuraatheid van die verslag te verseker. AfriForum het hierdie saak met koste gewen.

AfriForum het die reg om self ook ’n verslag op te stel om seker te maak dat geen verdere ongerymdhede plaasvind nie. Ná konsolidering, moet die kontrakteur die ooreengekome bedrag aan die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit terugbetaal en moet daar ook elke 60 dae aan die hof en AfriForum verslag gedoen word oor die vordering daarvan.

“Dit is jammer dat plaaslike munisipaliteite deur politici, hul vriende en familie misbruik word om hul eie sakke vetter te stop. Die bates wat hier geplunder word is noodsaaklik om die omstandighede van inwoners en belastingbetalers te verbeter en ons kan nie net toekyk hoe die plundery voortgaan nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Dit is duidelik dat onwettige besluite en ongerymdhede binne die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit plaasvind en AfriForum oorweeg om verdere klagtes teen die partye in hierdie onwettige optredes te maak.

Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings