|

Gouws-saak: Ooggetuie se weergawe dui daarop dat beskuldigde verkragtingslagoffer bedwelm het

Gavin Donnolly, ’n jarelange vriend van Celeste Gouws, het vandag in die Streekhof in Somerset-Oos getuig in die verhoor van Andile Memese wat teregstaan op een klag van verkragting en ’n klag van huisbraak met die doel om te verkrag. Sy getuienis, asook beeldmateriaal van die aand van die beweerde verkragting dui daarop dat Memese heel moontlik iets in Celeste Gouws se drankie gesit het om haar te bedwelm. Verskeie inwoners van die dorp het ook vanoggend, ter ondersteuning van Gouws, buite die hof betoog teen geslagsgebaseerde geweld.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, verteenwoordig Gouws in hierdie saak. Gouws is na bewering op die aand van 2 September 2017 in haar eie huis deur Memese verkrag. Die Direkteur van Openbare Vervolgings in die Oos-Kaap het geweier om Memese te vervolg, ten spyte van oorweldigende bewyse teen hom. Die NVG se rede om nie te vervolg nie, was bloot dat Memese sy “kans gesien het en dit gevat het”. AfriForum se privaatvervolgingseenheid vervolg nou vir Memese namens Gouws.

Donnolly het getuig dat Gouws hom op die aand van die beweerde misdaad per WhatsApp gekontak het omdat sy ongemaklik was met Memese in haar huis. (Memese het versoek om in haar huis te bad, omdat die woonstel op die erf waarin hy en sy vriendin gebly het, geen bad gehad het nie.) Volgens die getuie, asook die beeldmateriaal, het Memese slegs in sy handdoek in die huis rondgeloop toe Donnolly by Celeste se huis aangekom het.

Donnolly het getuig dat Memese oomblikke ná sy aankoms by Gouws se huis by hom en Gouws in die kombuis aangesluit en dat hulle drie wyn gedrink het. Vanuit beeldmateriaal wat vandag in die hof gewys is van wat daardie aand gebeur het, blyk dit dat Memese in ’n stadium glase met Gouws ruil. Daarna wys die beeldmateriaal hoe Gouws binne minute lomerig raak en selfs soms aan die slaap raak terwyl sy by die tafel sit en slinger as sy loop – Donnolly se getuienis het dit ook bevestig. Hierna het Gouws geval en die beskuldigde en Donnolly het haar in die bed gesit.

Donnolly het toe daarop aangedring dat Memese die huis saam met hom verlaat en het die huis gesluit. Volgens Donnolly se getuienis, het hy en Memese weggestap waarna Memese ’n paar strate van Gouws se huis af, gesê het dat hy teruggaan na sy woonstel, omdat sy vriendin laat weet het dat sy op pad terug huis toe is. Gouws het Donnolly die volgende oggend ingelig dat sy verkrag is en hy het haar gehelp om ’n saak by die polisie te open.

“Ons is bly dat die saak vandag uiteindelik kon voortgaan ná verskeie uitstelle van die verdediging. Ons is ook verheug oor die ondersteuning wat ons vandag buite die hof gekry het van ’n gemeenskap wat genoeg gehad het van geslagsgebaseerde geweld en die staat se onvermoë om vroue en kinders te beskerm. Dit onderstreep die belangrikheid van ons betrokkenheid by diesulke sake waar slagoffers van die sogenaamde pandemie van geslagsgebaseerde geweld deur die staat versaak word. Dit verkwik ons in ons strewe na geregtigheid, asook om ’n stem vir die stemlose slagoffers te wees,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die privaat aanklaer se saak gaan môre voort.

Soortgelyke plasings