| |

AfriForum woon openbare verhoor oor grondonteiening sonder vergoeding by

AfriForum-verteenwoordigers het op 13 en 14 Julie die openbare verhoor oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak in Gqeberha en Oos-Londen bygewoon. Dirk Burger, AfriForum se voorsitter vir die Port Elizabeth-tak, en Dave Nettle, AfriForum se voorsitter vir die Oos-Londen-tak, het elk ’n voorlegging gelewer. Burger en Nettle het beklemtoon dat dit niks anders as ’n politieke spel is nie.

Verskeie voorbeelde van korrupsie is voorgehou wat pogings tot grondhervorming in die wiele ry. Die feit dat slegs 6,3% van grond wat die staat aangekoop het tot op hede aan privaat eienaars oorgedra is, is uitgelig. Verder het AfriForum daarop gewys dat meer as 90% van mense wat grondeise ingedien het, aangedui het dat hulle nie daarin belangstel om landbougrond te besit nie en eerder geld as vergoeding verkies. Die regering het self ook toegegee dat meer as 90% van plase wat aan swart Suid-Afrikaners toegeken is, gefaal het en gou in bestaansboerderye of plakkerskampe verander het.

AfriForum is van mening dat die “honger na grond” grotendeels ’n mite is, veral wat betref die aanvraag na landelike grond om boere te word, aangesien ongeveer 82% van grondeise vir stedelike eerder as landelike grond is.

“Die regering se magspel oor grond kan nie net aanvaar word nie, want dit sal tot nadeel van die meerderheid in die land strek. Eiendomsreg is bevorderlik vir die skep van ’n voorspoedige samelewing en daarom sal AfriForum aanhou om hierdie vernietigende beleid teen te staan,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Raak vandag betrokke by een van dié AfriForum-takke deur Wikus van der Walt by 066 486 7611 te kontak.

Soortgelyke plasings