|

Privaatvervolgingseenheid verwelkom skuldigbevinding van ouers wat baba mishandel

Regter Hennie de Vos het vandag in die Hooggeregshof in Pretoria twee ouers skuldig bevind op klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer en kinderverwaarlosing in terme van die Kinderwet nadat hulle hul baba sedert die ouderdom van vyf weke in Maart tot Julie 2020 mishandel het. Vonnisoplegging sal op 6 en 7 Desember 2021 plaasvind. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag opgetree in hierdie saak en ook die klaers in die saak bygestaan met die lê van strafregtelike klagtes by die SAPD.

Dié uitspraak volg nadat die eenheid in Julie 2020 twee dokters en ’n maatskaplike werker bygestaan het in die lê van strafregtelike klagtes teen die ouers van die vyf maande oue baba. Die dokters het reeds in April 2020 toe die baba vyf weke oud was klagtes van kindermishandeling teen die ouers by die polisie aanhangig gemaak. Alhoewel die polisie aanvanklik die saak ondersoek het, het hulle die betrokkenes ingelig dat die aanklaer twee maande later besluit het om nie te vervolg nie weens ’n gebrek aan bewyse.

Die baba is op 1 Julie 2020 in ’n kritieke toestand in die Eugene Marais Hospitaal opgeneem met longontsteking, skok en dehidrasie. Sy was ook vér ondergewig vir haar ouderdom en was rasend honger toe sy opgeneem is. Verdere toetse het gewys dat haar sleutelbeen twee tot drie weke vóór haar opname ’n fraktuur opgedoen het en volgens die dokters se getuienis word ’n baba se sleutelbeen nie maklik per ongeluk gebreek nie. ’n MRI-skandering het beserings aan haar nek en kop getoon wat heel moontlik veroorsaak is deur iemand wat die baba se lyf erg geskud het sodat haar kop van skouer tot skouer ruk. Die regter het in sy uitspraak die afleiding gemaak dat die baba 31 frakture opgedoen het as gevolg van aanrandings wat op ten minste vyf geleenthede toegedien is.

Daarbenewens was beide haar femurs gebreek en daar was ook bewyse van verskeie gebreekte ribbes. Die beserings aan haar ribbes moes volgens een van die mediese deskundiges wat getuig het, veroorsaak geword het deur iemand wat die baba baie hard gedruk het en is die tipe besering wat doelbewus veroorsaak is. Al die dokters wat haar ondersoek en getuig het, stem saam dat dit waarskynlik is dat die baba kroniese mishandeling van ’n erge graad beleef het en sou kon beswyk van haar beserings as sy nie mediese behandeling gekry het nie. Die hof het die getuienis van al die dokters aanvaar en die weergawes van beide beskuldigdes verwerp.

“Vandag se uitspraak is ’n oorwinning vir hierdie kind en ook vir geregtigheid. Ons moenie vergeet dat die dokters wat die kind behandel het die werklike helde in hierdie saak is nie. Die privaatvervolgingseenheid moes by hierdie saak betrokke raak om te verseker dat die ouers verantwoordbaar gehou word vir hul dade en ons verwelkom die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se suksesvolle vervolging van die beskuldigdes. Dit is suksesvolle vervolgings soos hierdie wat weereens bevestig dat die druk wat die privaatvervolgingseenheid uitoefen, verseker dat sake waarin daar prima facie bewyse is voor die hof kom. Ons is tans betrokke by soortgelyke sake en sal nie skroom om stappe te doen om die huiwering van die NVG om sake van geweld teen vroue en kinders te vervolg uit die weg te ruim nie,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings