|

VERSUIM OM BAASBREIN IN SENZO-MOORD IN HEGTENIS TE NEEM, LAAT VERTROUE IN WETSTOEPASSINGSOWERHEDE VERDER VERFLOU

Sowel AfriForum se privaatvervolgingseenheid as die familie van die voormalige Bafana-Bafana-kaptein Senzo Meyiwa het vandag hul misnoeë uitgespreek oor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se versuim om te gelas dat die baasbrein in die moord op Senzo in hegtenis geneem en voor die hof gebring word. Dié saak is na die Palm Ridge Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas en sal op 19 Julie 2021 voortgaan met voorverhoorverrigtinge. Die verhoor sal op 25 Oktober 2021 begin. AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die Meyiwa-familie in die saak.

Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, is die NVG se gebrek aan optrede teen die opperbrein kommerwekkend veral omdat daar volgens dié eenheid genoeg bewyse is om dié persoon in hegtenis te neem. “Nou wil die aanklaer die saak na die Hooggeregshof oorplaas op ’n klag wat nie die element van beplanning in ag neem nie. Ons het reeds met die vorige verskyning gesê dat die volgehoue versuim om teen die opperbrein op te tree die saak sal benadeel. Dié persoon het na bewering sluipmoordenaars gekontrakteer om die moord te pleeg. Die huidige aanklag laat nie toe dat die afleiding gemaak kan word dat Meyiwa gedood is in die uitvoering van ’n sluipmoord nie. Dit is dus irrasioneel om die saak in hierdie stadium na die Hooggeregshof oor te plaas.”

Vandag se toedrag van sake bevestig volgens Nel die gemeenskap se negatiewe ingesteldheid jeens wetstoepassers se vermoë om ’n komplekse saak soos hierdie doeltreffend en sonder enige politieke inmenging te hanteer. “AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die ondersoekspan deurgaans bygestaan en het simpatie met hul frustrasie oor die NVG se onwilligheid om die verdere verdagte aan te kla en tot die klagstaat te voeg. Die indruk is reeds geskep dat dié persoon teen vervolging beskerm word – en die huidige onwilligheid van die aanklaer om die persoon aan te kla, verskerp hierdie ingesteldheid.”

“Die samelewing het ’n reg om op bekwame, rasionele en redelike optrede van die vervolgingsgesag aan te dring, sonder dat daar enige politiekery betrokke is. Dit is een van die redes waarom AfriForum by hierdie saak betrokke is: Ons is dit aan die gemeenskap verskuldig om toe te sien dat die NVG sonder vrees, begunstiging of vooroordeel vervolg,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Volgens Zama en Nomalanga Meyiwa, Senzo se susters, wil die familie bloot hê dat geregtigheid vir hul broer moet geskied. “Die feit dat die baasbrein met hierdie verskyning stééds nie aangekla is nie, plaas die familie onder geweldige spanning. Ons wil sekerheid hê oor wat die aand van Senzo se dood plaasgevind het,” sê Nomalanga.

“Ons soek geregtigheid vir die dood van Senzo en verwag dat die wetstoepassingsowerhede partye teen wie daar bewyse is, aankla en voor die hof bring. Die familie is dankbaar dat AfriForum ons in hierdie saak bystaan om toe te sien dat geregtigheid – waarop ons al sewe jaar lank wag – uiteindelik geskied,” sê Nomalanga.

* Vyf beskuldigdes (Muzikawulahlelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokosizi Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso) het vandag in die Landdroshof in Boksburg verskyn. Hulle word aangekla van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder lisensies en die besit van ammunisie.

Soortgelyke plasings