|

Afrikaners se bestaansvraagstuk vra groter konsentrasie

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het vandag by AfriForum se nasionale kongres gesê Afrikaners se probleme en hul bestaansvraagstuk sal in die toekoms deur kulturele kantons en ’n werkbare konsentrasiestrategie opgelos kan word.

Buys het gesê volke wat nie hul bestaansvraagstukke verstaan nie, is soos slaapwandelaars op pad na hul eie ondergang. Daar is voorbeelde in die geskiedenis van wêreldleiers wat ook nie bestaanvraagstukke verstaan het wat tot bloedige oorloë gelei het.

Hy het gesê dit is van kritieke belang dat daar nou na Afrikaner bestaansvraagstukke gekyk moet word, want as dit uitgestel word sal die volgende generasie almal in Australië sit.

“As Afrikaners het ons nooit die vraagstuk reg in die oë gekyk nie. Ons het altyd makliker, vinniger en goedkoper opsies gesoek.

“Ons belangrikste vraagstuk is nie verdeeldheid nie. Die Israeli’s is meer verdeeld, maar oorleef. Dit is ook nie die ANC nie. Daar is baie swakker regerings in die wêreld. Ons vraagstuk lê ook dieper as vorige leiers se swak onderhandelinge. Dis ook nie ons klein getalle nie. Ons probleem is ons is nie gekonsentreer soos ander volke nie. En ons het nie ’n eie gebied wat hoofsaaklike deur Afrikaners besit, bewoon en bewerk kan word nie. Dis hoekom ons ’n kwesbare minderheid tussen ’n meerderheid is. Afrikaners word oral deur die meerderheid regeer en oral klink dieselfde probleme op – swak dienste, druk op Afrikaans en Afrikaanse skole, ouetehuise wat sukkel, regstellende aksie en jong mense wat ver van opleidingsinstansies is.”

Buys het daarop gewys dat Afrikaners se demografiese probleem nie militêr, polities, met onderhandelinge, juridies of deur die Grondwet opgelos gaan word nie. Dit gaan ook nie help om deur privatisering Afrikaanse eilande te stig nie, want die samelewing neem maar die vorm van die meerderheid aan.

“Demografiese probleme vereis demografiese oplossing.”

Volgens Buys trek Afrikaners nader aan mekaar om ’n Afrikaanse lewe te lei. Volgens hom sal dit ’n natuurlike proses wees. “Ons het nog altyd getrek. Van Europa af hierheen en van die Kaap na die binneland. Nou trek ons weer na groter dorpe en stede om te konsentreer.”

Buys het verduidelik dat die strategie vir die toekoms kulturele kantons is. ’n Konsentrasieproses is aan die gang en dit gaan ondersteun word om kulturele infrastruktuur te skep soos ouetehuise, skole, veiligheidstukture en ander noodsaaklike dienste. “Groter selfbestuur en selfstandigheid sal gevestig word. Dit gaan nie oornag gebeur nie. Dis ’n groeiende proses.”

Volgens Buys sal ankerdorpe of kantons ook na kleiner dorpe en yler bevolkings kan uitreik. Die begin van die strategie sal die aanwys van die dorpe wees wat binnekort sal gebeur. Sowat 70% van AfriForum en Solidariteit se lede woon reeds hier.

Hierdie strategie sal ook moontlik gemaak word deur die skep van ’n beleggingsmaatskappy, moontlike notering en samewerking met vennote.

Soortgelyke plasings