|

AfriForum-buurtwaglede werk saam om brand buite Potgietersrus te bestry

AfriForum-buurtwaglede het op 16 Augustus die Potgietersrus-brandweer gehelp om ’n wegholbrand te bestry.

Die buurtwag het ’n versoek van die brandweer in Potgietersrus ontvang om bystand te lewer met die blus van ’n veldbrand wat by die Percy Fyfe-pad en die R101 ontstaan het. AfriForum se buurtwaglede het die brand in samewerking met plaasboere en die brandweer bestry en geblus om te verhoed dat dit sommige plase verder vernietig en na nabygeleë perdestalle versprei.

Die buurtwaglede het ook bystand aan Life 24 Ambulance Services gelewer by ’n motorongeluk wat vermoedelik deur die digte rookwolke veroorsaak is. Drie mense is inderhaas na die Voortrekker-hospitaal geneem.

Louis Badenhorst, ’n buurtwaglid, het verskeie rolspelers bedank wat saamgewerk het. “Die Potgietersrus-brandweer, Working on Fire, Life 24 Ambulance Services, Micromatica Sekuriteit, die Valke-buurtwag, gemeenskapslede, plaasboere en AfriForum-buurtwaglede het almal saamgewerk om teen 19:30 die situasie onder beheer te bring. Almal het soos een span saamgewerk.”

“Die gemeenskap se vermoë om te oorleef lê in hoe suksesvol hulle is om ’n ekosisteem te skep waarbinne hulle kan saamwerk, planne maak, organiseer en mobiliseer. Hierdie samewerking tussen die Potgietersrus-buurtwaglede en die gemeenskap en organisasies rondom hulle moet gekoester word,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Die AfriForum-buurtwaglede in Potgietersrus, wat tans nog onder die Pietersburg-tak val, is besig om hul eie buurtwag te stig. Om betrokke te raak by die stigting van hierdie buurtwag, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings