|

Afsterwe van Leopold Scholtz ’n enorme verlies

Die stem van dr. Leopold Scholtz (74), ’n formidabele en gerespekteerde skrywer, historikus en oudkoerantman, het stil geword.

Sy afsterwe in Nederland is ’n enorme verlies en laat ’n leemte op die terrein van Afrikaner-geskiedenis en politieke ontleding wat moeilik gevul kan word, sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

Scholtz het die afgelope drie jaar aan leukemie gely en behandeling daarvoor ontvang. Hy is verlede week in ’n versorgingseenheid in Delft opgeneem ná ’n ernstige epileptiese aanval. Hy het geval wat bloeding op die brein veroorsaak het. Dit het sy spraak aangetas en regterbeen verlam. Hy is dood in sy rolstoel aangetref.

Volgens Bailey het hulle paaie die eerste keer gekruis met die totstandkoming van AfriForum. “Destyds was mense skepties oor die rol wat ’n burgerregte-organisasie van dié aard kon speel, maar van meet af was Leopold entoesiasties oor die idee. Deur die jare het hy deurlopend met groot belangstelling die vordering van AfriForum dopgehou en ondersteun.”

Op taalgebied was hy ’n inspirasie met sy keurige taalgebruik.

Van sy belangrikste werk sluit sy navorsing en publikasies oor die Anglo-Boereoorlog, Suid-Afrikaanse Grensoorlog en die ANC se optrede in ballingskap in. “Met ’n naam soos Leopold (volgens hom is hy deur sy vader vernoem na Leopold von Ranke, die vader van moderne geskiedskrywing) kon dit nie anders as dat hy ’n historikus van formaat sou word nie. By verskeie geleenthede het ons die voorreg gehad om boekbekendstellings van hom aan te bied of by te woon, waar sy verstommende kennis oor alle aspekte van die geskiedenis, van oorlogvoering tot ideologie, ’n mens verstom het.”

Volgens Bailey was Leopold ’n mens van onkreukbare integriteit met sterk menings wat hom in sommige se oë omstrede gemaak het wanneer dit by politieke ontledings kom. “Tog was hy nooit kleinlik nie en het hy lewenslank na balans en objektiwiteit in sy meningstukke probeer strewe. Op taalgebied was hy ’n inspirasie met sy keurige taalgebruik. ‘Ek haat vulgariteit,’ was sy reaksie op mense wat hulle taal meng en vloek om effek te probeer kry. Met sy veroordeling van die verengelsing van Afrikaanse onderriginstellings, veral die Universiteit van Stellenbosch, was hy ’n voorspraak vir Afrikaans wat respek afgedwing het. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy sy buitengewone professoraat en navorsingsgenootskap aan die universiteit beëindig het,” sê Bailey.

Scholtz het sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Leiden in Nederland verwerf. Sy proefskrif het gehandel oor genl. Christiaan de Wet as veldheer. Hy het aanvanklik geskiedenis aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit studeer, maar toe joernalis by Beeld en daarna Die Burger geword. Ná se aftrede was hy vryskutjoernalis in Nederland.

Sy kennis was ongeëwenaard, sy navorsing altyd uiters deeglik en gereed op sy vingerpunte, sy skryfstyl was kragtig en sy persoonlikheid innemend.

“Persoonlik sal ek hom onthou vir sy humor, sy liefde vir diere en boeke, sy Christenskap en betrokkenheid by hulle gemeente in Schipluiden, sy lojaliteit as vriend en bo alles, sy liefde vir Ingrid. Hy het onderneem om saam met haar in Nederland af te tree omdat sy soveel jare saam met hom in Suid-Afrika gewoon het. Hy het homself ’n emigrant vir liefde genoem. Tog het Nederland diep in sy hart gekruip en kon hy kinderlik opgewonde raak oor die eerste wintersneeu. Ons sal hom mis. Ek dra my en AfriForum se innige simpatie aan Ingrid oor,” sê Bailey.

AfriForum Uitgewers het ook hulde aan Scholtz gebring. “Hy was ’n groot skrywer, historikus en joernalis wat met sy ongeëwenaarde kennis, talent en werksetiek ’n uitsonderlike bydrae tot die corpus van Suid-Afrikaanse geskiedenispublikasies gemaak het,” sê Ilze Nieuwoudt, publisiteitsbestuurder.

In 2016 het Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu by Kraal Uitgewers verskyn, terwyl die verwerking van sy meestersgraadverhandeling Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius in 2019 by Kraal Uitgewers gepubliseer is. Scholtz het ook verskeie kere vir die uitgewer as beoordelaar van manuskripte opgetree. (Kraal Uitgewers staan sedert Mei vanjaar bekend as AfriForum Uitgewers.)

Volgens Nieuwoudt is Scholtz se afsterwe ’n geweldige verlies vir AfriForum Uitgewers én liefhebbers van sy werk. “Sy kennis was ongeëwenaard, sy navorsing altyd uiters deeglik en gereed op sy vingerpunte, sy skryfstyl was kragtig en sy persoonlikheid innemend.

“Dit was vir AfriForum Uitgewers ’n voorreg om saam met hom te werk en ’n bydrae te kon maak tot die optekening van geskiedenis deur een van die land se voorste historici. Hy gaan waarlik gemis word.”

Hennie Van Deventer, oudkoerantredakteur, skryf op Facebook oor sy afsterwe: “’n Stem van rede het stil geword, ‘n wakker verstand rus nou en ‘n gerespekteerde plek in ‘n wye gemeenskap wat deur sy insigte verryk is, het pynlik leeg geraak.

“Die heengaan van skrywer-joernalis Leopold Scholtz, voorste historikus en politieke denker, op 74 is nie heeltemal onverwags nie. Dit is bekend dat hy die afgelope jare in ‘n dapper stryd teen kanker gewikkel was. Tog tref die finaliteit ‘n mens hard. Vergeefs gaan jy voortaan in die koerante van Media24 soek na sy gesaghebbende kommentare wat hy – met sy uitgebreide kennis van die internasionale politiek – skynbaar so maklik en vinnig kon uitryg.

“Jy gaan soek na sy prikkelende saampraat en ewewig oor wat op politieke en kultuurfront in SA gebeur. Op persoonlike vlak gaan jy die lewensblyheid, humor en ondeundheid wat agter die waardige fasade van ‘n akademikus van stoffasie geskuil het, geweldig mis.

“Sy pa – dr. GD Scholtz – het spore getrap as koerantman-historikus. Leopold het die Scholtz-nalatenskap verder indrukwekkend uitgebou. Saluut, kollega. Jy was vir die joernalistiek ‘n sieraad en vir Media24  meer as goud werd.”

Scholtz en sy vrou het nie kinders gehad nie. Hy word ook oorleef deur sy broer, Adelbert.

Scholtz en sy vrou Ingrid

Soortgelyke plasings