|

SKRYWER KOESTER GESKIEDKUNDIGE SKATTE IN SY PLAASMUSEUM

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“As iemand nie meer iets wil hê nie, dan gee hulle dit vir my.”

Dit is die 73-jarige skrywer, reisiger, amateur-historikus en versamelaar, Nico Moolman, se antwoord op hoe hy ’n museum op sy oudag geopen het, en dít nog buite ’n klein plattelandse dorpie in KwaZulu-Natal.

Moolman is die skrywer van 16 boeke wat meestal handel oor die Anglo-Boereoorlog, insluitend die boek The Boer Whore, wat die grondslag gevorm het vir Francois Smith se roman Kamphoer, wat in ’n gelyknamige toneelstuk met Sandra Prinsloo verwerk is.

Vandag woon hy en sy vrou, Naomi, op die plaas Cesaréa (Weltevreden) net buite Utrecht en geniet en herleef hul daagliks die geskiedenis van die items wat deur die jare aan hulle geskenk is of wat hul self versamel het en nou in die Buskruit en Laventel Plaasmuseum bewaar.

Hierdie museum, wat hulle langs hul huis ingerig het, bied egter vir die besoeker veel meer as die tradisionele plakkaat-ervaring. Hierdie is ’n wys, kyk én voel museum.

Na ’n hartlike verwelkoming en slukkie tuisgemaakte grenadellasap, word besoekers deur die museum begelei. Die inhoud is ’n oorweldigende verskeidenheid van items wat Moolman gepas as “Afrikana-kwadraat” beskryf.

’n Wye verskeidenheid van kosbare items, waaronder eerste uitgawes van tydskrifte, ou wapens, kledingstukke, foto’s en oorspronklike republiekvlae, word hier gehuisves. ’n Mens se oë kan nie anders as om te dans van die een item na die ander nie. Dit terwyl Moolman boonop elke item se oorsprong en verhaal ken.

Van die interessantste items sluit ’n spesiale Anglo-Boereoorlog-gedenkuitgawe van die Huisgenoot van November 1938 en die eerste uitgawe van Sarie Tydskrif, wat besoekers mag deurblaai, in. ’n Eetlepel, vergrootglasbril, handtekeningstempel en tonteldoos (wat steeds as in het) van wyle president M.T. Steyn word ook hier veilig bewaar. Moolman het dit van ’n “instansie” gered wat aan hom gesê het dat hy dié sogenaamde “gemors” maar kan hou.

Sy waardevolste item is ’n klein Bybeltjie wat hy met sorg saggies streel voor hy ’n geparste blommetjie tussen die blaaie uithaal.

Dié Bybel het aan Ouma Bettie Kloppers van die plaas Viljoenshoop naby Lindley in die Vrystaat behoort en bewaar die enigste teken van lewe wat op haar familieplaas oorgebly het ná die Anglo-Boereoorlog. “Daar was paraffien-lappe om die vrugtebome gedraai, die huis en alles om dit is afgebrand en vernietig. Al wat oorleef het, was dié enkele wit rosie in die tuin. Met haar terugkeer na die familieplaas ná die oorlog het Ouma Bettie die blom gesien, dit gepluk en in haar Bybel gepars. Haar een kleindogter, tant Hester Viljoen van Petrus Steyn, het dit toe vir my gegee en dit het meer sentimentele waarde as enigiets anders in die museum vir my,” vertel Moolman.

Die geskiedenis van die Anglo-Boereloog lê Moolman baie na aan die hart.  Binne ’n kilometer van sy museum het die Russiese soldaat Leo Pokrofski op Knights Hill gesterf terwyl hy aan die Boere se kant in die oorlog geveg het. Hy is jare later voor die NG Kerk in Utrecht herbegrawe en ʼn spesiale grafsteen is vir hom opgerig.

Moolman en die bekende sportfotograaf Wessel Oosthuisen het ook onlangs saam ’n boek getiteld Boere en Russe: Persoonlike Vriendskappe geskryf. Hierin word die verhoudinge tussen dié twee lande sedert die Anglo-Boereoorlog en daarna beskryf. Moolman is vroeër vanjaar deur die Russiese ambassade vereer vir sy navorsing oor die besonderse verbintenis wat daar tussen die Boere en Russe tydens die oorlog was. Die amptelike boekbekenstelling is egter weens COVID uitgestel.

Moolman se advies aan die jonger generasie is om hul kultuur te waardeer en te koester en nie teëspoed te vrees nie. “Gaan Voortrekkermonument toe, stap deur ’n ou begraafplaas, besoek Bloedrivier en luister elke nou en dan na daardie ou stupid Afrikanerliedjies. Jy het sterk vegter-gene en dit sal jou deur moeilike tye dra.”

Soortgelyke plasings