|

Akademia onderteken geskiedkundige internasionale ooreenkoms met Hongaarse Universiteit

Akademia het gister ’n geskiedkundige internasionale samewerkingsooreenkoms met die Hongaarse Universiteit van Landbou- en Lewenswetenskappe (afgekort as MATE) onderteken. Die ooreenkoms is geldig vir vyf jaar en fokus hoofsaaklik op die samewerking tussen die instellings vir die ontwikkeling van landbou- en lewenswetenskappe deur middel van akademiese samewerking in die areas van navorsing, onderrig en fakulteitsontwikkeling.

Die uitruil van studente, professors, navorsers, administrateurs, inligting en publikasies en die implementering van samewerkende onderrig en navorsingsgeleenthede word ook in die vooruitsig gestel.

Volgens dr Dávid Bencsik, hoof van die Direktoraat van Internasionale Sake en Buitelandse Verhoudinge van MATE wat die ooreenkoms namens MATE met Akademia onderteken het, gaan daar dadelik aan die werk gespring word om die ooreenkoms ’n werkende een te maak, eerder as net ’n stuk papier wat in ’n laai gebêre gaan word.

“Ons sien uit na onderlinge samewerking tussen ons universiteite,” sê hy. “Daar is baie wat ons Akademia kan leer, maar ook baie wat ons by hulle kan leer. Almal kan leer uit die vrae wat gevra word. Ons glo dat ons baie soortgelyke waardes en opvoedingsideale met Akademia deel en ons glo dat hierdie memorandum van verstandhouding maar net die begin is van baie toekomstige ondernemings.”

Dr. Dávid Bencsik, hoof van die Direktoraat van Internasionale Sake en Buitelandse Verhoudinge van MATE

Hy het by die ondertekeningsgeleentheid benadruk dat Hongarye vir omtrent dubbeld hul huidige inwonertal van 10 miljoen mense voedsel kan voorsien, maar dat dié land met die regte vennootskappe kan help om 1,5 miljard mense van voedsel te voorsien. Dis een van die redes hoekom hierdie ooreenkoms met Akademia aangegaan is.

Landbou is een van die nuwer studierigtings by Akademia en hierdie ooreenkoms is die eerste van sy soort met ’n internasionale vennoot vir dié Afrikaanse universiteit.

“Landbou, wat nou verband hou met voedselsekerheid, is ’n vakgebied wat tans vinnig ontwikkel en uitbrei. Dit is daarom eerstens belangrik dat Akademia bande bou met van die beste landbou-universiteite in die wêreld, soos MATE, met die vooruitsig om ons aan die voorpunt van landbouontwikkeling in die wêreld te kan posisioneer,” sê prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia, het by die geleentheid gesê dat dit wonderlik was om die verteenwoordigers van MATE te ontmoet en dat die hoop is om die verhouding en vriendskap tussen die twee universiteite uit te bou.

Dr. Dávid Bencsik en prof. Danie Goosen

Soortgelyke plasings