|

Akademia-studente wys hulle staal in Dink of Sink-debatskompetisie

Die eerste uitdunronde van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteite het Saterdag by Akademia in Centurion plaasgevind. ’n Nuwe rekordaantal van ses spanne het aan die kompetisie deelgeneem en die beoordelaars met hulle debatsvaardighede beïndruk.

In die verlede het AfriForum slegs een nasionale kompetisie vir enkele universiteitspanne aangebied. Volgens Nicolene Müller, projekkoördineerder van hierdie kompetisie, het die Dink of Sink-projekspan vanjaar besluit om uitdunne by verskeie instellings in die land aan te bied, ten einde Afrikaanse debat op universiteitsvlak te bevorder en aan meer belangstellendes die geleentheid te bied om deel te neem. “Dit is wonderlik om te sien hoe opgewonde Akademia se personeel en studente is om debat uit te brei en die kompetisie te bevorder. Debat is ’n vaardigheid wat studente die res van hulle lewe sal kan toepas,” voeg sy by.

Die ses spanne van Akademia het elk aan drie debatte deelgeneem, waarna die span met die meeste punte as wenners gekroon is. Hulle dring na die nasionale kompetisie deur wat op 30 September 2023 in Centurion plaasvind.

Akademia 1 het as wenners uit die stryd getree. Dié span bestaan uit Myrtle Endley, Olerato Brown, Christine Kriel en Corlia Bekker. In pursuit of dispute was die naaswenners en die lede van dié span is Nicolas Nel, Michael Loggenberg, Frances Dreyer en Migael Marx.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het die deelnemers, beoordelaars en Akademia wat die lokale vir die kompetisie kosteloos voorsien het, hartlik bedank. “Die nuwe formaat van die kompetisie het op ’n hoë noot begin. Ons wil verseker dat Dink of Sink net nóg verder op tersiêre vlak gaan groei. Tans is studente van Akademia, die Universiteit van Pretoria, die Noordwes-Universiteit en die Universiteit Stellenbosch gereelde deelnemers, maar ons nooi studente van alle ander instellings uit om ook formeel of informeel hierby betrokke te raak,” sê sy.

Soortgelyke plasings