|

AKADEMIA VEREER VIR UITNEMENDE BYDRAE TOT REKENKUNDIGE BEROEP

Deur Zydèlia Venter

Akademia het onlangs ʼn toekenning van die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA) ontvang vir uitnemendheid in onderrig.

Die instelling het die toekenning genaamd, Groep-landkampioen, tydens ʼn virtuele toekenningsplegtigheid ontvang. Hierdie toekenning erken akademici wat in Bestuursrekeningkunde doseer vir hulle bydraes tot onderrig en vir hul aktiewe toewyding om studente by te staan om hulle CIMA-kwalifikasie te voltooi.

CIMA se toekennings vir uitnemendheid vier akademiese vennote, onderriginstellings en studente wat die afgelope jaar ʼn belangrike bydrae gelewer het tot beide die rekenmeestersberoep sowel as tot CIMA self. Hierdie internasionale toekennings beklemtoon onderrig, navorsing en leer in rekeningkundige opleiding van die hoogste gehalte.

Rika Nieuwoudt, departementshoof van Ekonomie en Finansiële Wetenskappe aan Akademia, sê: “Dit is vir Akademia ʼn groot voorreg om in samewerking met CIMA ʼn hoë gehalte van onderrig te handhaaf. CIMA stel ʼn voorbeeld van ʼn professionele liggaam wat oor tyd groei en aanpas, terwyl wêreldgehaltestandaarde gehandhaaf word. Akademia aanvaar graag die leiding van CIMA se navorsing oor die nuutste tendense van toekomstige finansiële beroepe. Hierby verseker ons dat die toekomstige graduandi van Akademia gereed is vir die werkplek sodat hulle onvervangbare waarde tot enige instansie kan voeg”.

Andrew Harding (FCMA, CGMA), uitvoerende hoof van Bestuursrekeningkunde by CIMA, het gesê: “Die CIMA-prestasietoekennings vereer instansies en individue wat uitstaande bydraes gelewer het tot die rekenmeestersberoep en onverpoos gewerk het om hul studente te verryk en die beste moontlike onderrig aan hulle te bied, om sodoende die volgende generasie van rekenmeesters voor te berei. Die toekenning vir uitnemendheid in onderrig wat Akademia ontvang, is ʼn bewys van ware toewyding en hulle verbintenis om die toekoms van ons beroep te bevorder.”

Die seremonie is geborg deur die Vereniging van Internasionale Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters – die rekeningkundige organisasie wat deur CIMA en die Amerikaanse Instituut vir Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters – gestig is. CIMA se toekennings vir uitnemendheid word jaarliks toegeken aan diegene wat ʼn verskil in die rekeningkundige gemeenskap gemaak het, en hulle studente proaktief ondersteun om hul Chartered Global Management Accountant (CGMA)-kwalifikasies te verwerf.

Besoek die CIMA-webwerf vir ʼn volledige lys van 2020 se wenners van toekennings vir uitnemendheid. Besoek Akademia se webblad (www.akademia.ac.za) vir meer inligting oor hierdie instelling se kwalifikasies in Bestuursrekeningkunde.

Soortgelyke plasings