|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum se takke het ’n besige week agter die rug. Daar is onder meer gewerskaf om dorpe op te knap en om die omgewing te bewaar. AfriForum is ook in ’n stryd gewikkel om wetsontwerp te stuit wat ongekende regte aan die minister van Minerale Hulpbronne en Energie sal gee wat die sluise vir korrupsie kan opmaak.

In Pongola het die AfriForum-tak die afgelope week die plaaslike begraafplaas skoongemaak. Daar was oor Desember baie reënval in die omgewing en die uPhongolo Plaaslike Munisipaliteit het weinig tot geen instandhouding by die begraafplaas gedoen nie. Nie net is die begraafplaas netjies gemaak nie, maar ’n geleentheid is ook gebied aan inwoners om onder veilige omstandighede hul geliefdes se grafte te besoek.

Verskeie organisasies, rekreasieklubs en gemeenskapslede het by die Vaal River Lodge bymekaargekom om ’n grootskaalse skoonmaakaksie van stapel te stuur. Saam het hierdie rolspelers is 70 ton waterslaai (Pistia stratiotes) uit die Vaalrivier verwyder – nege trokke vol waterslaai is eindelik weggery. Hierdie waterslaai hou baie nadelige gevolge vir die ekostelsel in, maar steeds het die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake en die Departement van Water en Sanitasie nie ’n plan aangekondig om die probleem te pak nie.

“Die ekostelsel word beskadig, die waarde van eiendom langs die rivier neem drasties af en ondernemings wat afhanklik is van ontspanningsaktiwiteite soos bootritte en visvang ly ook daaronder. Indien daar nie nou ingrypend opgetree word nie sal hierdie situasie afspeel soos die hiasinte-krisis van die Hartebeespoortdam en ons land kan dit nie bekostig nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

Voeg jou stem by hierdie saak deur hierdie skakel te volg. Indien jy betrokke wil raak by die skoonmaakaksies, skakel gerus vir Jaco Grobbelaar by 066 565 8108 of Laurel Young by 082 883 705.

AfriForum het vandeesweek gesê die ontwikkeling van Stroomop Petroleumhulpbronne moet gestuit word. Die rede vir AfriForum se kommer is die gebrek aan deursigtigheid en die onbeperkte magte wat aan die minister van Hulpbronne en Energie toegeken sal word. Daar word byvoorbeeld beoog om ’n 20% aandeel in alle petroleumregte aan die staat toe te deel, wat die deur wawyd oopmaak vir korrupsie. Insgelyks sal die minister die onbeperkte mag hê om sekere areas vir petroleumontwikkeling uitsluitlik vir swart beleggers te reserveer met niks wat in sy pad staan om hierdie diskresie tot voordeel van sy kaders toe te pas nie. Sedert die wetsontwerp in 2019 aangekondig is, voer AfriForum al ’n stryd daarteen.

’n Nuwe reeks getiteld Resilient voices: Survivors of farm attacks share their stories waarin slagoffers van gewelddadige plaasaanvalle in Suid-Afrika hul ervarings in skokkende besonderhede onthul, is nou op AfriForumTV te sien. Volgens Jacques Broodryk, regisseur van die reeks en hoofwoordvoerder van AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid, is dit noodsaaklik om hierdie stories te vertel en vir die internasionale gemeenskap om kennis te neem van slagoffers se ervarings in hierdie ondenkbare gewelddadige aanvalle. “Hierdie is die werklike mense wat werklike gruwels gely het.”

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit se instandhouding van sypaadjies en ander oop terreine in dié munisipaliteit laat veel te wense oor. Die AfriForum Durban-Wes-tak het dus ’n kilometer lange strook sypaadjie in Malvern, Queensburgh, opgeknap. Dié projek is in samewerking met gemeenskapslede van Queensburgh Tidy Towns aangepak. Daar is met hierdie projek besluit om ’n daadwerklike verskil aan die netheid van die woonbuurt te maak.

Sypaaadjies is in Malvern, Queenburgh, skoongemaak.

Soortgelyke plasings